Paul Eilers: ʼn Legende gegroet

Paul Eilers.(Foto: Facebook via Roepman – Movie)

Legendaries. Geniaal. Radioman. Mentor.

Alles woorde wat gebruik word deur mense wat die veteraanakteur en regisseur Paul Eilers (74) geken het, op en af van die verhoog. Die nuus oor Eilers se dood, na verneem word weens ʼn hartaanval, het die Afrikaanse vermaakwêreld geruk en talle treur oor die val van ʼn groot seder in die bedryf.

Die rolprentmaker en resensent Leon van Nierop vertel hy het Eilers sedert 1975 geken toe hy by die SAUK begin het. “Hy was ʼn omroeper en regisseur en ek wou presies dieselfde werk as hy gedoen het. En so het ek dan ook by die beste geleer,” sê hy.

“Paul was kwaai en sou dikwels harde woorde laat val en jou in geen onsekere terme reghelp wanneer jy iets verkeerd doen. Hy het harde kritiek gegee, maar dit was natuurlik die enigste manier om te leer.

“Ek onthou daar het een dag ʼn radiodrama aangekom en Paul het gedink ek moet ʼn kans gegee word om die regie te behartig. Dit was ʼn groot meestersdrama met groot name in die bedryf wat dit gedoen het en ek het gedink, maar hoe de joos gaan ek met hierdie mense werk? ‘Diepkant inspring, seun. Diepkant inspring,’ het Paul gesê. En ek het dit gedoen!”

Oor Eilers se erns en professionaliteit met sy werk, kan rolprentregisseur Sallas de Jager ook getuig. “Die vreemde ding met iemand soos Paul, is dat ek voel asof ek hom al my lewe lank ken, want ek ken hom al van kleintyd af van die televisie af. Maar eintlik het ek hom eers in 2010 persoonlik ontmoet,” sê De Jager.

Eilers en De Jager het onder meer saamgewerk aan die rolprente Roepman, Verraaiers, Musiek vir die agtergrond, Free State en Jonathan: Die Movie. Eilers het ook die rol van At vertolk in Dominee Tienie, waarvan De Jager regisseur was en ook die draaiboek geskryf het.

“Paul was altyd professioneel en supervoorbereid met elke projek waaraan hy gewerk het. Maar ek moet ook sê, hy was ʼn regte spanspeler en het geweldige insig gehad. Hy kon karakters van ʼn papier af vat en hulle in mense verander, en dit is ʼn baie fyn talent om te hê. Almal kan toneelspeel, maar Paul het vir jou die mens binne die karakter gewys, en dikwels was dit mense vir wie jy baie vinnig kon lief raak ook,” sê De Jager.

“Hy was ʼn ongelooflike mens en vir my ʼn mentor in soveel opsigte. Ek en my familie was baie lief vir hom.”

Paul-Eilers-Chriskras

Paul Eilers. (Foto: Kknk.co.za)

Die gesoute aktrise Lizz Meiring skryf in ʼn roerende huldeblyk op sosiale media dat Eilers ʼn fenomenale akteur, regisseur en radioman was. “Slim. Geniaal slim,” skryf sy.

“Ek en Paul kon ure praat – oor die goeie en die slegte dinge in ons bedryf; life, the universe and everything. Wie sal ooit sy meesterlike spel in onder meer [die verhoogproduksie] Faan se trein, hordes televisiereekse, rolprente, onlangs in Dominee Tienie, radiodramas en teaterproduksies vergeet? Hy was net so natuurlik in sy spel, so effortless. And he didn’t suffer fools. Sommige was bang vir hom, ek was nie. Hy was nie giftig of kleinlik nie, net reguit, eerlik en so sonder sentiment. Sardonies. Maar onder daai sardoniese vel – ʼn warm hart, ʼn groot liefde, ʼn wilde vrye gees.”

En te midde van Eilers se erns en reguit woorde, ʼn ligte hart wat graag sou lag. Van Nierop sê Eilers se kwinkslae, al die lag deur die jare en die talle poetse wat Eilers hom voor die mikrofoon gebak het, sit nog duidelik in sy geheue.

“Vanoggend sit ek in die bad toe die SAUK bel om ʼn huldeblyk aan hom te doen en ek moet nóú met hulle praat, daar is nie ander tyd nie. En toe ek daar sit, toe dink ek net – as Paul my nou kon sien. Hy sou só gelag en die petalje só geniet het. ‘Serves you right’, sou hy sê.”

Tussendeur die talle huldeblyke aan Eilers vandag op sosiale media, ook dié uit ‘n gedig van Jan FE Celliers:

Stil, broers,
daar gaan ʼn man verby,
hy groet,
en dis verlaas.
Daar’s nog maar één soos hy;
bekyk hom goed.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Onnie ·

Ek sal hom altyd onthou vir die ongenaakbare koerantman/ redakteur in Sonkring. Hyt altyd vir Anna-Mart , “Poplap” genoem

Essa ·

Geweldige verlies aan kundigheid, ervaring en talent in die bedryf van die kunste op vele vlakke. Soveel te meer vir sy vriende en famalie. Meegevoel met julle. Saluut vir Paul Eilers.

Adri ·

Ai tog! Nou wanneer is hy oorlede? Groot verlies, maar baie goeie herinneringe.

Oom Jaco ·

Blykbaar Vrydag oorlede. Ń groter vraagstuk is wanneer is hy gebore… ek kan nêrens uitvind hoe oud hy was nie…

Jurie ·

Daar is webwerwe wat sê hy is in 1950 gebore. Dit beteken hy was 69. Wie is nou reg?

Rochelle Carstens ·

Paul ek onthou die pragtige en beskeie e pos wat ek van jou ontvang het na ek jou gekomplimenteer het op jou besondere talentvolle manier van stories voorlees op Rsg. Jy was n ster

Gaitsigubib ·

Ek onthou hom van 5 Ster. As ek reg onthou was hy die ou wat met diamante betrokke was – glad soos seep. So goeie akteur, sulke goeie herinneringe! Vandag wil ek my TV by die deur uit smyt en dis nie ver nie.

Basson ·

Nog een van die wie gelyke nie maklik weer gevind sal word in die hedendaagse milieu :(

Amanda ·

Kan hom nog onthou uit my kinderdae in die rol van Polka in die tv-reeks Vyfster.
Daar is inderdaad net ‘n paar akteurs van sy kaliber in SA. Hy was so uniek. Sal daai stem uit ‘n duisend kan eien.

jean ·

Ag…en was hy nie verantwoordelik vir soveel genotvolle programme in Afrikaans!…Wens daar kan weer herhalings wees….Laat dit goed gaan Paul.!

Marianne ·

Paul was ‘n legende in sy eie tyd. ‘n finominale kunster het nou ‘n skitter plek aan die hemel ruim. My gebede gaan aan sy geliefdes.

Veronica ·

So het nog n groot boom geval. R I V Paul, en meegevoel met jou familie en vriende.

Lynne ·

Ek Salueer jou Paul! Fenominale & Forbidale Kunstenaar! Geniet die draaiboek van jou lewe in die ander dimensie!

Nelia van Zyl ·

RIV -Groot gees. Jou heengaan laat ‘n geweldige gemis…

Chrisjan ·

Was hy in Hollywood sou die hele wêreld nou hulde gebring het. Eilers was sonder twyfel Hollywood standaard.

Dirk van der Merwe ·

Eers val ons ander ou grote in die vermaaklikheids wereld….Piet Botha. En nou ‘n paar weke later, nog ‘n grote… Paul Eilers. Die talente poel wat ons geken het in S.A. se vermaaklikheids wereld, gaan binnekort droogloop. Ons gaan julle mis. R.I.V.

jakes ·

Ek mis vie Polka daar in Pretoria Sentraal. Hy is ook nou saam met Priester en Pappa.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.