Paul O’Sullivan-assistent vrygelaat

Sarah-Jane Trent (links). Foto: Facebook

Sarah-Jane Trent (links). Foto: Facebook

Sarah-Jane Trent (32), die toegelate prokureur en werknemer van die forensiese speurder Paul O’Sullivan wat Vrydag in Johannesburg in hegtenis geneem is, is Sondagaand laat uit aanhouding vrygelaat.

Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger wat sedert Vrydag onverpoos gepoog het om haar uit aanhouding by die Kameeldrift-polisiestasie, noordoos van Pretoria, te kry, het gesê sy is uiteindelik op borgtog vrygelaat nadat hulle die hooggeregshof in Pretoria genader het.

Spies het aan Maroela Media gesê nadat al die betrokke partye hul hofstukke voorgelees het, het die advokaat van die minister van die polisie ingestem tot ʼn bevel wat daarop neergekom het dat Trent voor 21:00 op borgtog van R5 000 vrygelaat moes word.

“Ons kon uiteindelik vasstel op watter aanklag sy in hegtenis geneem is. Die klagte is dat sy haar voorgedoen het as ʼn werknemer van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod). Dit is ʼn belaglike klagte. Sy het wel gehelp met die formulering aan ʼn klagte wat deur Opod ondersoek word, maar het haar in geen stadium voorgedoen as ʼn werknemer nie. Die ondersoek hou verband met bewerings dat die waarnemende polisiekommissaris, lt.genl. Khomotso Phahlane, by korrupte aktiwiteite betrokke was.”

Spies het gesê dit wil voorkom of Phahlane self die aanklag teen haar aanhangig gemaak het. ʼn Aanklag van onregmatige inhegtenisneming sal aanhangig gemaak word na afloop van Trent se saak, wat Dinsdag in die Pretoria-landdroshof, op haar 33ste verjaardag, voorkom.

Volgens Spies gaan dit goed met Trent en het sy Sondagaand by vriende deurgebring ná ʼn naweek agter tralies.

Sy woon in Sandton in Johannesburg en dit is nie duidelik hoekom sy na ʼn afgeleë stasie, noordoos van Pretoria, geneem is vir aanhouding nie.

Brig. Sally de Beer, nasionale polisiewoordvoerder, het by navraag aan Maroela Media gesê die polisie gaan nie in dié stadium kommentaar lewer oor die beweringe rakende Trent se inhegtenisneming nie, aangesien die saak nou in die hof aan die orde gestel word en die kwessies in die hofprosesse hanteer sal word.

Maroela Media het vroeër berig Trent het Vrydag “verdwyn” en kon vir drie uur nie opgespoor word nie. Spies en sy kollega het laat Vrydagaand eers verneem dat sy glo by die Kameeldrift-polisiestasie aangehou word.

AfriForum het in Oktober verlede jaar sy teenkorrupsie-eenheid, in samewerking met O’Sullivan, in Centurion bekend gestel om korrupsie te beveg.

Die stigting van dié eenheid was die eerste stap in AfriForum se stryd teen korrupsie. Die tweede stap was ʼn privaat vervolgingseenheid wat aan die einde van Januarie op die been gebring is waar adv. Gerrie Nel, voormalige aanklaer vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), aan stuur van sake staan.

Phahlane word deur Opod ondersoek rakende bewerings van korrupsie en dwarsboming van die gereg rakende die bou van sy persoonlike huis in die luukse Sable Hills-landgoed. Opod ondersoek glo hoe Phahlane, wat sy lewe lank nog ʼn polisiebeampte is, dit kan bekostig om die huis, wat glo ongeveer R8 miljoen werd is, te bou.

Phahlane ontken egter dat hy by enige misdrywe betrokke is. Hy het Maandag hofstukke aan Opod, O’Sullivan, Trent en landdros JR Tsatsi beteken en wil daardeur ’n interdik teen O’Sullivan verkry wat hom verhoed om by Opod se ondersoeke teen hom betrokke te wees.

O’Sullivan het Vrydag aan News24 gesê die Valke het ’n klopjag op sy huis in Johannesburg uitgevoer. Brig. Hangwani Mulaudzi, nasionale woordvoerder van die Valke, het dit egter ontken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

En? ·

En? Ry hulle nou tot by oom Daantjie in die kalwerhok!! Wat ‘n dom manier van doen. Laat hulle boet daarvoor.

Jan maak n plan ·

Dis duidelik dat Phahlane iets het om weg te steeek want hy probeer darem vreeslik hard om hierdie ondersoek te stop.

AL ·

Ja hy keer vir n vale. Mooi so Afriforum! Kriminele het te lank weggekom

Magda ·

Dit is oor sulke korupsie wat ek trots is om te sê ek gee elke maand n bydrae vir Afriform. doet so voort

Kobus ·

Kameeldrift Polisiestasie is nie ver van Sable Hills waar Phahlane woon nie. Sy het sekerlik ‘n eis vir onregmatige arrestasie teen die Minister van Polisie.

Kobus ·

Kameeldrift Polisiestasie is nie ver van Sable Hills waar Phahlane woon nie. Sy het sekerlik ‘n eis vir onregmatige arrestasie teen die Minister van Polisie.

Piet Pompies ·

Korrupte amptenare sit almal nou op die punte van hulle stoele omdat privaat vervolging nou begin.
Dit is nou tyd vir “Pop corn, peanuts and bubble gum…”

julius ·

Dis interesant as iemand wat ondersoek word die mag het om die ondersoekers te laat toesluit. Ek hoop die mense se oë gaan oop.

Jean ·

HEKSEJAG teen almal wat met Paul O Sullivan geassosieer word. Dit wys jou hulle krap op die regte plekke . iemand raak bang vir die stories wat gaan uitkom na die ondersoek.

brenda ·

Hyt seker n LOTTO gewen……snaaks dat mense wat n sekere salaris verdien leef soos miljoenêrs; as jy wil steel moet jy slimmer steel of leef!! hehehehe; kry vir jou; arme girl; hoop Sarah ry hulle!!

Koos1 ·

Ek was ‘n voorstaander vir Geml. Phahlane, maar begin nou wonder.
Teen Saterdag het die SAPS nie van haar geweet nie, al het sy in die selle gesit!
Genl. Phahlane kon mos maar navraag gedoen het!
‘n Eis vir onregmatige arrestasie lyk vir my reg maar asb. Gerrie en Willie, hou die persone verantwoordelik hiervoor, in privaat hodanigheid verantwoordelik, dat die belasing betaler nie (weer) moet pa staan vir die geld nie!

Wim ·

Dankie Koos jy is reg solank ons belasting betalers daarvoor betaal gaan hulle aanhou met die soort arrestasies.Laat die persoon wat die onregmatige arrestasie doen dit persoonlik voel, al moet daar by sy pensioen gevat word.

Pellenie ·

Blatante misbruik van mag.

Erger as Mafia.

Is eintlik verbaas dat sy nog lewe. Voorspelling is dat volgende persoon hierby betrokke wat gearresteer gaan word gaan uitloop om algeheel te verdwyn (en dus vermoor) te word.

“Desperate katte maak vreemde sponge”.

ukuMangala ·

Hoge vlak intimidasie werk so.
Volgende hierby betrokke gaan verdwyn (en moontlik vermoor word) om die vlak van intimidasie te verhoog.
Tipiese misbruik van mag.

MANIE ·

Waarom word die een na die ander korrupte polisiehoof aangestel sedert die anc die veronderstelde regering is. Is daar nie iewers n poisieman van kleur wat die pos kan vul sonder om hom aan korrupsie te onderwerp.

Alida ·

Phahlane is nie ‘n krimineel nie. Juis om daardie rede word hy ondersoek. Die ANC hou nie van eerlike mense nie en sal enigiets soek teen hom.

Jean ·

Sarah-Jane is ook nie ‘n krimineel nie, maar is soos een behandel, so ERENS is hier groot fout. Sy moet hulle maar net eenvoudig dagvaar vir onregmatige inhegtenisname en diegene wat die opdrag gegee het moet AAN DIE PEN RY!!

2Good ·

Dan vra sommige mense die doodstraf moet terug kom?? Alle verkeerde mense sal aan die pen ry

Connie ·

2Good jy is so reg. Dit sal net wittes wees. Dan het 2 kante waar hulle ons uitmoor.

Kabous ·

Stem saam.

Korrupte polisie en politici sal ons uitmoor – m.b.v. die regstelsel.

Louise ·

Die polisie kom weg met als. My vertroue vir hulle vir een is heeltemal weg. Hulle is veronderstel om jou veilig te laat voel, by te staan, te help.maar met my slegte ervaaring die afgelope naweek voel ek onveilig en verneder in my eie land. Nes Sarah Jane was my suster beledig, mishandel en onregmatig in hegtenis geneem die naweek. Dit en die heeltyd wat sy beledig, mishandel en gevloek was deur die polisie.Sy is nie eers ‘n krimineel nie. Hulle misbruik hulle posisies. Meeste van hulle is nie die uniform werd wat hulle dra nie. Sarah Jane ek hoop jy dagvaar daardie korrupte polise en dat gereg sal geskied.

celia ·

On n interdik te prober vrkry om te keer dat jy ondersoek word beteken niks anders as skuldig nie!

Andre Els ·

Wel gedaan Afriforum. Ek kan my net indink watter ontbering die arme vrou moes deurgaan. Die polisieman moet in sy persoonlik hoedanigheid vervolg word anders betaal ons belastingbetalers weer vir sy regskoste.

Chris ·

Dit is die oudste “triek” in die boek. Dit word verdagmakery genoem. As jy aanjaag probeer jy die blaam weglei van jou af. Simpelste voorbeeld is. As jy regtig kwaad vir jou buurman is, vertel net vir iemand in jou straat jy het hom saam met ‘n jong dogtertjie in ‘n kar sien sit, en sy hand was nie te siene nie. Jy sal binnekort ‘n nuwe burman kry. Of vra vir enige ou, “slaan jy nog jou vrou”

Pietser ·

Is sy huis klaar betaal of is daar ‘n verband? As waarnemende kommissaris verdien hy ‘n verskriklike salaris en byvoordele so hy mag dalk kwalifiseer vir ‘n groot verband.

Anoniem ·

Die arrestasie van Sarah-Jane versterk nou mos JUIS die vermoede dat daar ‘n slang in die gras is!!! Of is die strategie om alle eerlike persone gemoeid met die ondersoek te intimideer/elimineer tot net die korruptes oorbly om die “ondersoek” af te handel?

Kabous ·

Brig de Beer is ‘n toesmeerder en dis skandalig! Wat dink haar familie en vriende van haar? Gee sy nie om nie? Kry sy nie skaam nie?

Toesmeerdery van die eerste water.

Dis vir my duidelik hulle het iets om weg te steek en probeer almal intimideer. Enige aap kan dit sien.

Ek kan nie glo die Hawks en polisie kan so dom wees nie.
Nee, sorry – by nabetragting: ek kan dit wel glo!

Speedguard ·

Is die Selly meisiejiejie die selfde enetjie wat so wal gegooi het vir Jackie Selebie, of is sy die een wat by Alice gewoon het voor hul getrek het ??

Gertman ·

Manie, dis in die bloed en almal kom weg daarmee, tot in hoogste vlakke. Soos ‘n vis wat vrot, dit begin by die kop..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.