Paul O’Sullivan in die hof

Paul O'Sullivan

Paul O’Sullivan

Die private ondersoeker Paul O’Sullivan het Donderdag in die Pretoria-landdroshof verskyn op vyf verskillende aanklagte nadat hy Maandagaand voor die kantoor van sy regsverteenwoordiger in Centurion in hegtenis geneem is.

O’Sullivan (62) het op aanklagte van bedrog, intimidasie, afpersing, poging tot afpersing en oortreding van die Wet op die Onafhanklike Polisieondersoek-direktoraat (Opod) verskyn. Hy is op borgtog van R10 000 vrygelaat.

Sy borgtogvoorwaardes sluit in dat hy nie die Sable Hills-landgoed, waar die waarnemende polisiekommissaris, lt.genl. Khomotso Phahlane, woon, mag binnegaan nie. Hy mag ook nie met staatsgetuies kommunikeer of die name van die getuies aan ʼn derde party bekendmaak nie. Die saak is tot 19 Mei uitgestel, wanneer O’Sullivan saam met sy assistent en medebeskuldigde, Sarah-Jane Trent, in die hof sal verskyn.

Brig. Sally de Beer, nasionale woordvoerder van die polisie, het in ʼn verklaring gesê O’Sullivan is tans die beskuldigde in vier ander sake voor die hof. Dit sluit in aanklagte van bedrog en afpersing wat in April 2016 aanhangig gemaak is en van 3 tot 5 April vanjaar in Randburg verhoor sal word.

Volgens De Beer is ʼn saak van ontvoering ook in Mei 2016 teen O’Sullivan aanhangig gemaak, wat van 22 tot 24 Maart verhoor word. In April 2016 is ʼn saak in verband met die beweerde oortreding van die Wet op Immigrasie ook aanhangig gemaak, wat weer op 17 Maart aangehoor word. O’Sullivan word ook aangekla van afpersing, bedrog en intimidasie in ʼn vyfde saak, wat in Maart 2016 aanhangig gemaak is en op 27 Julie 2017 weer voor die hof kom.

Paul O’Sullivan en sy assistent, Sarah-Jane Trent, by die hof. Foto: ANA

Paul O’Sullivan en sy assistent, Sarah-Jane Trent. Foto: ANA

“In drie van hierdie sake is lede van die publiek die klaers,” het De Beer gesê. “Daar is nog talle ander ernstige sake wat ondersoek word, waarvan die meeste deur lede van die publiek aanhangig gemaak is.”

Willie Spies, O’Sullivan se regsverteenwoordiger, het vroeër aan Maroela Media gesê O’Sullivan se inhegtenisneming is net deel van ʼn “intimidasie-veldtog” deur die polisie.

O’Sullivan en Trent het glo gehelp met die formulering aan ʼn klagte wat deur Opod ondersoek word en verband hou met bewerings dat Phahlane by korrupte aktiwiteite betrokke was. Opod ondersoek glo hoe Phahlane, wat sy lewe lank nog ʼn polisiebeampte is, dit kan bekostig om die huis, wat glo ongeveer R8 miljoen werd is, te bou. Phahlane ontken egter dat hy by enige misdade betrokke is.

De Beer het Donderdag gesê die polisie sal nie kommentaar lewer oor sake wat tans ondersoek word nie. “Ons sal die regsproses toelaat om sy gang te gaan en toelaat dat die bewyse voor die hof gebring word,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Duineboer ·

Ek dink ons beweeg in die rigting vn ‘n burgeroorlog. Wat ander oplossing is daar as die regering letterlik en figuurlik reeds die wapen op wetlike en fisiese vlak teen ons opgeneem het?

Nico ·

Ag nee man. Hoekom is die owerhede so bang vir hierdie “Ingelsman” ?. Hy bedreig waarskynlik ‘n paar ritkaartjies op die soustrein….

Sarie ·

Phahlane & sy voorgangers is goed uitgesoekte “perde” vanuit èèn stal…

AL ·

Paul O Sullivan is n vreeslose vegter. Baie sterkte aan hom. Ons het in n regte mafiastaat ontaard met die mafia wat binne die regering sit.

Johann ·

Kyk nou net hoe misbruik Zuma se handpoppe hul mag soos hy belowe het hulle sal kan en mag SOU hulle uitgevang word terwyl hulle skep…en natuurlik terwyl HY SELF skep!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.