Paul O’Sullivan: ‘Phahlane sit daaragter’

Paul O’Sullivan en sy assistent, Sarah-Jane Trent, by die hof. Foto: ANA

Paul O’Sullivan en sy assistent, Sarah-Jane Trent, by die hof. Foto: ANA

Die private ondersoeker Paul O’Sullivan sê sy en sy assistent se inhegtenisname is beïnvloed deur lt.genl. Khomotso Phahlane met die doel om die ondersoek na hom te ontwrig.

O’Sullivan het met verslaggewers gepraat by die Pretoria-landdroshof ná sy assistent Sarah-Jane Trent se hofverskyning. “Hoewel ons weet Phahlane sit hier agter, het hy boewe van Noordwes gebring. Ons is nou in ʼn situasie waar die strafregstelsel deur kriminele oorgeneem word en wanneer hulle ontbloot word misbruik hulle die Grondwet.”

Trent het aan verslaggewers gesê sy is ontvoer. “Hulle het my na ʼn polisiestasie in Marlboroweg gevat en my daar gehou vir ʼn uur en ʼn half en in daardie tyd besef dat hulle nie my selfoon gevat het om inligting af te laai nie. Hulle het my toe gedwing en geïntimideer om terug na die kantoor te gaan. Ons is terug soontoe en hulle het my foon in my motor gaan haal. Hulle het my toe na ʼn vulstasie gevat waar hulle inligting van my foon afgelaai het in ʼn VW Polo met ʼn Noordwes-nommerplaat,” het sy aan verslaggewers gesê.

O’Sullivan het gesê hulle beplan om ʼn saak van ontvoering, regsverydeling en afpersing teen die polisie aanhangig te maak. “Ons meen hulle is skuldig aan afpersing aangesien hulle onwettig en met opset doen wat hulle doen om die ondersoek na die korrupte polisiehoof te ontwrig.

Volgens O’Sullivan sal Phahlane sy dag in die hof kry. “Ek verwag om gereeld deur hierdie boewe in die polisie in hegtenis geneem te word. Ek sal vasstaan, die mense staan agter my, die publiek staan agter my.”

Trent is Vrydagmiddag in hegtenis geneem en Sondagaand laat vrygelaat nadat sy in die hooggeregshof in Pretoria verskyn het. Haar borgtog is later op R5 000 vasgestel.

Trent en O’Sullivan het saam met Opod gewerk aan ʼn ondersoek na bewerings dat die waarnemende polisiekommissaris, lt.genl. Khomotso Phahlane, by korrupte aktiwiteite betrokke was.

O’Sullivan is Maandag buite AfriForum se kantoor in Centurion in hegtenis geneem. Hy is toe na die Kameeldrift-polisiestasie geneem waar hy aangekla is van bedrog, intimidasie en afpersing. Hy is Maandagaand laat vrygelaat nadat sy regspan ʼn hofbevel bekom het.

Intussen is die saak teen Trent tot 19 Mei uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

JJ ·

Gaan asseblief voort met julle goeie werk. Ek sal ondersteun waar ek kan.

dirk L ·

Daar is dus niks wat skurke meer afskrik nie . Dit is niks anders as anargie nie. Mens kan net bid dat die volgende verkiesing ‘n waterskeiding is. Daar is veel meer om voor te bid

AL ·

Ek sal jul ook ondersteun. Hierdie land se rampokkery moet onder die loep geneem word internasionaal. Kla Zuma en sy regering by die VN.

Milan ·

Verbeel ek my of het n vorige SAPD hoof ook eindelik in die tronk beland? Dejavu!

Kobus 4e ·

Wat is die aanklagte teen Trent? Wanneer was sy ontvoer, ook Vrydag?

VET ED ·

Die hele vis is al papvrot,nie net die kop nie. Sterkte met julle geveg teen die kriminele

Mike de Beer ·

Mr. O’Sullivan and your team, Please do not step back? Let the truth prevail?

Keelvol ·

Ons kan begin help deur Afriforum finansieel te ondersteun. Ek het aangesluit.

Hannie ·

Dankie dat jy lid is van Afriforum! Die volgende stap is om ‘n paar kennisse en familie te kry om ook aan te sluit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.