Paul O’Sullivan se saak tot Oktober uitgestel

Paul O'Sullivan (Foto: Who's Who)

Paul O’Sullivan (Foto: Who’s Who)

Die privaat forensiese ondersoekbeampte Paul O’Sullivan, wat daarvan beskuldig word dat hy die land se immigrasiewette oortree het, het Donderdag die Kempton Parkse landdroshof versoek om sy borgtogvoorwaardes te verslap indien sy saak nie kan voortgaan nie.

O’Sullivan is in April in hegtenis geneem toe hy die land met sy Ierse paspoort verlaat en met sy Suid-Afrikaanse paspoort teruggekeer het. Hy staan tereg op aanklag van die oortreding van die Wet op Immigrasie.

Sy saak kon egter nie voortgaan nie, aangesien die staatsaanklaer Jabulani Mlotshwa ʼn navraag ingedien het oor ʼn ander saak waarin O’Sullivan ʼn interdik probeer bekom om owerhede te verhoed om ondersoek in te stel na bewerings dat hy ander misdade gepleeg het.

O’Sullivan voer aan die polisie-ondersoek oor die beweerde misdade is “polities gemotiveerd”.

Die staatsaanklaer het aan die hof gesê, aangesien hy in daardie saak genoem word, beïnvloed dit die huidige saak. Mlotshwa het aan die hof gesê ʼn 370 bladsy dokument van die Pretoriase hooggeregshof is op hom bedien waarin dit genoem word dat O’Sullivan aansoek gedoen het vir ʼn interdik teen hom. Hy het die opsomming aan die hof voorgehou, waarin genoem word dat ʼn tydelike interdik teen hom en agt ander persone bekom is om hulle te verhoed om deel te neem aan ʼn kriminele ondersoek teen O’Sullivan, hangende die uitslag van die hof.

Mlotshwa het daarna aan die hof gesê O’Sullivan het self gesê hy is nie seker na watter saak hy verwys nie.

Die staatsaanklaer het bygevoeg hy kan nie die saak teen O’Sullivan hanteer totdat hy met die nasionale direkteur van openbare vervolging vergader het om opdrag te ontvang oor die pad vorentoe nie.

“Die bewerings is ernstig en baie lasterlik. Ek is dus nie in staat om met die huidige saak voort te gaan nie,” het hy gesê. “As ek enigiets teen O’Sullivan doen, sal ek skuldig wees aan minagting van die hof.”

Mlotshwa het aan die hof gesê hy was in gesprek met adv. Barry Roux, vir O’Sullivan, wat aan hom gesê het daar is ʼn fout in die dokumente. “Hierdie is dokumente van die hooggeregshof, en as daar ʼn fout is, dan is daar maniere om dit reg te stel,” het Mlotshwa verduidelik.

Hy het versoek dat die saak tot 15 November uitgestel moet word, wanneer die hooggeregshof sal bepaal of O’Sullivan se aansoek om die interdik meriete het. “My loopbaan hang hiervan af en ek wil dit nie ligtelik opneem nie,” het hy gesê. “Dit is egter interessant dat hy [O’Sullivan] wil kies watter sake ek hom oor kan vervolg, en watter nie. As ek in hierdie saak uitgesluit word, moet ek by almal uitgesluit word. Hy wil die hof en Suid-Afrika sê wat om te doen.”

Roux het egter gesê die staat “probeer munt slaan uit die situasie”, omdat hulle nie voorbereid was op “dit wat vandag aangehoor moes word nie”. Hy het gesê om die saak tot November uit te stel, is “te lank” om te wag vir die saak om voort te gaan. Hy het die hof versoek om die saak tot 20 Oktober uit te stel, en versoek dat as die staat nie in daardie stadium gereed is om voort te gaan nie, moet die hof sy kliënt se aansoek aanhoor om sy borgtogvoorwaardes te verslap sodat hy na Londen in die Verenigde Koninkryk kan reis.

Landdros Wynand Nel het ingestem en die saak tot 20 Oktober uitgestel.

Lees alle vorige berigte oor Paul O’Sullivan op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johann ·

Hoe spel.mens nou weer heksejag? Net bly om te sien Paul laat hom nie rondstamp nie. Sterkte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.