PE-bendelid gee homself oor aan polisie

Argieffoto

Argieffoto

ʼn 21-jarige bendelid van Port Elizabeth, wat gesoek is op aanklag van moord, het homself aan die polisie oorgegee.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê die verdagte het homself Woensdagmiddag aan die provinsiale bende-ondersoekeenheid oorgegee. Die jong man is gesoek in verband met die moord op Randy van Reenen (35), wat Sondagmiddag buite ʼn huis in Librastraat, Gelvandale, doodgeskiet is.

“Volgens inligting het Van Reenen saam met twee ander persone buite die huis gestaan en rook,” het Naidu verduidelik. “Twee mense, wat hulle ken, het hulle genader. Van Reenen het in die huis in gegaan. Die verdagtes het by die hek gestaan en hom geroep. Hy het weer uit die huis gekom en met een van die mans begin baklei. Een van die verdagtes het ʼn vuurwapen te voorskyn gebring en Van Reenen in sy kop geskiet.”

Van Reenen is op die toneel dood en die twee verdagtes het te voet gevlug.

Die oorledene en die verdagte is albei lede van die Sestien Honde-bende.

Naidu sê die motief vir die moord is vermoedelik interne konflik binne die bende. Die verdagte sal Vrydag in die landdroshof in Port Elizabeth verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.