PE-dubbelmoord: Polisie sê oor oorsaak van dood

André en Lidia Saaiman. Foto: Facebook

Die polisie is steeds op soek na ʼn tuinier wat ʼn persoon van belang is in die ondersoek na die wrede moord op ʼn bejaarde egpaar van Port Elizabeth.

Ao. Alwin Labans, woordvoerder van die polisie, het gesê André en Lidia Saaiman se tuinier word vermis sedert hul liggame Maandagoggend in hul huis ontdek is. Maroela Media het vroeër berig ʼn nutsman het Maandag by die egpaar se huis in Summerstrand opgedaag en die Saaimans se dogter gebel toe hy geen antwoord by die huis kon kry nie.

Die dogter en haar man het met hul aankoms by die huis gesien dat die huis “omgekeer is”, maar daar was geen teken van haar ouers nie. Die polisie is toe ontbied.

Monty Montgomery, bedryfshoof van Atlas Sekuriteit, het aan Maroela Media gesê beamptes van die veiligheidsmaatskappy was van die eerstes op die toneel. Hulle het gesien dat die deur na die studeerkamer in die huis gesluit is en met die polisie se aankoms by die toneel, is die deur oopgebreek.

André en Lidia se liggame het in die studeerkamer op die vloer gelê. ʼn Byl is naby die liggame, wat met kabelbinders vasgebind was, gevind.

Labans het Dinsdag aan Maroela Media gesê dit het by nadere ondersoek aan die lig gekom dat André vermoedelik met die byl vermoor is, terwyl Lidia vermoedelik verwurg is. ʼn Nadoodse ondersoek sal egter in die week gedoen word om die presiese oorsaak van dood te bevestig.

Montgomery het gesê die tuinier het in ʼn woonwa op die erf gewoon en sy woonplek was onversteurd. “Daar was niks buitengewoons nie, selfs die televisie was nog aan. Die tuinier was egter nêrens te vinde nie.” Montgomery het gesê sover sy wete strek, was daar geen teken van gedwonge toegang tot die Saaiman-egpaar se huis nie.

ʼn Dubbelmoordsaak en saak van huisroof word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Theresa ·

Soek aanhoudend na hom en sonder ophou. Konfiskeer dan sy blyplek op hierdie mense se eiendom – hy hoort nie meer daar nie.

Ek stem saam ·

Ek stem saam Pop. Sedert my vrou se oorlye geen huishulp en ook die tuinman het verdwyn. Ek kom heel goed oor die weg en doen alles self. Die tuinman wat ek nou aangestel het se naam is Roundup en die onkruid en grasse in die beddings word nie meer afgebreek maar vrek tot in die wortel. Ek hoef hom ook nie kos te gee. Strykwerk met die Philips ‘Steamstation’ werk soos ‘n droom.

Tronk is lekker ·

Ja nee, hoekom wil hy daar bly? Pleeg moord en jy het baie jare gratis verblyf, warm klere komberse, dak oor jou kop, gratis geleerdheid, 3 borde gratis kos per dag. Dis mos die lewe!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.