PE-kinderporno-saak binnekort na hooggeregshof

Argieffoto

Argieffoto

Die saak teen ʼn egpaar van Port Elizabeth wat daarvan beskuldig word dat hulle deel is van ʼn sindikaat wat ontstellende foto’s van babas wat mishandel word versprei het, sal na verwagting binnekort na die stad se hooggeregshof oorgeplaas word.

Die 33-jarige man en 22-jarige vrou van Westering, het Dinsdag vlugtig in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn. Die egpaar is na bewering deel van ʼn internasionale pornografie-sindikaat wat foto’s en beeldmateriaal van die verkragting, marteling en moord van babas en pasgeborenes versprei.

Jason Thysse, die staatsaanklaer, het aangedui dat die staat met die egpaar se volgende hofverskyning gereed sal wees om die saak na die hooggeregshof oor te plaas.

Dit het vroeër aan die lig gekom dat ʼn ondersoekspan van Johannesburg saam met die Amerikaanse FBI en die polisie in België werk aan ʼn ondersoek wat “sensitief van aard” is. Aanklagte teen die egpaar sluit in die besit, invoer en verspreiding van rolprente en publikasies wat kinderpornografie uitbeeld en die seksuele uitbuiting van kinders aanmoedig. Die polisie het vroeër gesê ná die inhegtenisneming van die egpaar verlede jaar, het nog 81 ander leidrade aan die lig gekom wat internasionaal opgevolg word.

Die saak is tot Donderdag 2 Junie uitgestel. Die egpaar se borgtog is verleng.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.