PE-kinderporno-saak: ‘Sensitiewe materiaal’ nie in dossier

Argieffoto

Argieffoto

Die Port Elizabeth-landdroshof het Dinsdag gehoor dat “sensitiewe materiaal van babas wat mishandel word” nie deel is van die dossier in die saak waarin ʼn egpaar van die stad verskyn het vir hul beweerde betrokkenheid by ʼn internasionale pornografiesindikaat nie.

Die 33-jarige man en 22-jarige vrou van Westering het vlugtig in die hof verskyn. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle deel is van ʼn sindikaat wat foto’s en beeldmateriaal van die verkragting, marteling en moord van babas en pasgeborenes versprei.

Adv. Jason Thysse, die staatsaanklaer, het aan die hof gesê die saak is uiters sensitief en ʼn ondersoekspan in Johannesburg werk saam met die Amerikaanse federale ondersoekburo (FBI) en die Belgiese polisie. Thysse het gesê die span sal op 16 Mei in Port Elizabeth wees sodat van die materiaal nagegaan kan word terwyl die egpaar se nuwe prokureur, Paul Roelofse, teenwoordig is.

Volgens Thysse is die materiaal pornografies van aard en sal dus nie deel vorm van die dossier nie.

Aanklagte teen die egpaar hou verband met die invoer, besit en verspreiding van films of publikasies wat kinderpornografie uitbeeld en die seksuele uitbuiting van kinders aanmoedig.

By die egpaar se vorige verskyning in April verlede jaar het die man aan verslaggewers gesê dat “mense nie die volledige storie ken nie” en hom onnodig veroordeel.

Die saak is uitgestel tot 17 Mei sodat die regspanne die materiaal kan nagaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.