PE-kleuter doodgeskiet: Slotbetoë in hof gelewer

Argieffoto (StevePB, Pixabay)

Argieffoto (StevePB, Pixabay)

Altesaam sewe getuies het getuig die twee beskuldigdes, wat teregstaan vir die moord op die tweejarige Caydene Ruiters, was op die toneel toe sy in Desember verlede jaar doodgeskiet is, het die hooggeregshof in Port Elizabeth Vrydag gehoor.

Slotbetoë is vandag gelewer in die moordverhoor teen Marcus Malgas en Gregory Van Staden, wat beskuldig word van die peuter se moord. Caydene is tydens ʼn dwelmverwante skietery voor haar huis in Helenvale doodgeskiet.

Die hof het gehoor Caydene was saam met haar ma, suster en vier mans voor die huis toe ʼn dwaalkoeël haar in haar bors getref het. Sy is na die Livingstone-hospitaal gehaas, maar is met haar aankoms dood verklaar.

Adv. Jason Thysse, die staatsaanklaer, het in die hof aangevoer die getuies, wat die twee mans op die toneel gesien het, kan nie hulself misgis nie. “Dit was meer as ses maande na die voorval en hulle kon steeds die beskuldigdes tydens ʼn formele uitkenningsparade identifiseer,” het Thysse gesê.

Malgas het vroeër erken hy was buite die huis, maar het ontken hy het enige skote afgevuur en gesê die vuurwapen wat hy in sy besit gehad het, was nie gelaai nie. Van Staden het sy betrokkenheid by die skietery heeltemal ontken en aan die hof gesê hy was uitstedig die dag wat Caydene geskiet is.

Thysse het aangevoer die beskuldigdes se weergawes kan nie moontlik waar wees nie en het die hof gevra om Eon Daries, een van die getuies, se getuienis te aanvaar. “Daries was ʼn goeie getuie, wat openlik erken het hy was ʼn lid van die Gazas-bende. Hy het gesê albei beskuldigdes was op die toneel toe die skote afgevuur is. Hy kon egter nie bevestig wie die skote afgevuur het nie,” het Thysse gesê.

Malgas en Van Staden is na bewering lede van die berugte bende ‘Sestien Honde’ en het skuld ontken op al 11 aanklagte teen hulle, van onder meer moord, poging tot moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

ʼn Getuie het vroeër die week aangevoer Daries, wat lid van ʼn vyandige bende is, was ook die dag van die skietery voor die huis, wat ʼn moontlike motief vir die skietery kan wees.

Adv. Peet Schoonraad, vir die verdediging, het egter aangevoer Caydene se ma, Davidene, en haar suster, Tamlynn, kan nie as geloofwaardige getuies beskou word nie, omdat hulle “uiters getraumatiseerd” is. Hy het beklemtoon geen van die getuies het werklik gesien wie die skoot afgevuur het wat Caydene getref het nie.

Regter Onika Van Papendorp sal Maandag haar uitspraak lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Cherokee ·

Hoe lewer ‘n regter ‘n uitspraak tydens sulke onvolledige en onsekere getuienis? Dit gaan haar wakker hou totdat dit afgehandel is.

CHRISTA ·

Waarom word die 2 vuurwapens nie gestuur vir balistiese toetse nie of is ons polisie onkapabel om dit uit te voer? Dan sal hulle mos kan sien wie se koeël die kind getref het.

Cherokee ·

Dit is indien die koeël gevind is, Christa. Dan behoort dit gedoen te word soos jy sê.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.