PE-kleuter doodgeskiet: Uitspraak gelewer

Caydene Ruiters se ouers, Davidene Ruiters en Ricardo Windvogel. Foto: ANA

Caydene Ruiters se ouers, Davidene Ruiters en Ricardo Windvogel. Foto: ANA

Die twee mans wat aangekla is van die moord op die tweejarige Caydene Ruiters is Maandag in die hooggeregshof in Port Elizabeth op al die aanklagte teen hulle skuldig bevind.

Altesaam sewe getuies het getuig dat Marcus Malgas en Gregory van Staden op die toneel was waar die kleuter deur ʼn dwaalkoeël getref is tydens ʼn bendeverwante skietery in Desember verlede jaar. Caydene was saam met haar ma, suster en vier mans voor die huis in Helenvale toe die koeël haar in die rug getref het. Sy is na die Livingstone-hospitaal gehaas, maar is kort ná haar aankoms daar dood verklaar.

Die twee mans, wat glo lede van die berugte bende “Sestien Honde” is, is skuldig bevind op 11 aanklagte van onder meer moord, poging tot moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

Adv. Peet Schoonraad, vir die verdediging, het vroeër aangevoer Caydene se ma, Davidene, en haar suster, Tamlynn, kan nie as geloofwaardige getuies beskou word nie, omdat hulle “uiters getraumatiseerd” is. Hy het beklemtoon geeneen van die getuies het werklik gesien wie die skoot afgevuur het wat Caydene getref het nie.

Regter Onika van Papendorp het egter in haar uitspraak gesê Davidene en Tamlynn is erg getraumatiseer deur die voorval, maar was goeie getuies. Van Papendorp het ook gesê Juwayne Camfer was ʼn geloofwaardige getuie aangesien sy kon bevestig dat albei mans op die toneel was.

Sy het ook gesê Eon Daries, nog een van die getuies, het oop kaarte met die hof gespeel deur te erken dat hy ʼn lid is van die Gazas, ʼn vyandige bende in die gebied. Camfer het vroeër aan die hof gesê die skietery het gebeur omdat Daries die dag teenwoordig was.

Davidene Ruiters moes tydens die regter se lewering van haar uitspraak uit die hof stap omdat sy onbedaarlik begin huil het. Sy het na afloop van die hofverrigtinge aan verslaggewers gesê sy is dankbaar teenoor God en voel asof sy nou ʼn mate van afsluiting verkry het.

Malgas en Van Staden sal Dinsdag gevonnis word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.