PE-man sit lank vir moord op polisieman

Charles Nqaba. Foto: Raahil Sain/ANA.

Charles Nqaba (26), die man wat skuldig bevind is aan die moord op ʼn polisiebeampte, is Woensdag in Port Elizabethse hooggeregshof gevonnis.

Hy is tot 18 jaar effektiewe tronkstraf gevonnis vir die moord op konst. Devin Hattingh, ʼn pa van drie. Hattingh is in Julie 2014 doodgeskiet toe hy ʼn vragmotor na Motherwell vergesel het. Hy was ten tyde van die voorval nie aan diens nie en het ekstra veiligheidswerk gedoen om sy inkomste aan te vul.

Nqaba het vroeër in Maart geen teken van ontsteltenis gewys toe hy op aanklagte van moord, poging tot moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie skuldig bevind is nie.

Konst. Devin Hattingh.

Sy medebeskuldigde, Jabulani Mkaba (28), wat tydens die verhoor in polisieaanhouding was, is op al die aanklagte teen hom vrygespreek.

Voor sy vonnisoplegging het Nqaba uitgevaar teen fotograwe en joernaliste wat hom afneem. “Hulle maak my op my senuwees! Hulle moet ophou,” het hy geëis. Hy het egter net ná sy skuldigbevinding in Maart sy hande in die lug gesteek en vuurwapentekens vir sy vriende in die openbare galery gewys.

Regter Phakamisa Tshiki het gesê die Hattingh-gesin het hul broodwinner verloor. “Die skuldige was nie eerlik met die hof nie, het nie die hof in sy vertroue geneem nie en het nooit gesê hoekom hy Hattingh doodgemaak het nie,” het Thsiki gesê.

Nqaba is tien jaar tronkstraf vir poging tot moord opgelê, 15 jaar vir die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en tien jaar vir die besit van patrone. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Hattingh en sy vrou, Blanche, was albei by die Mount Road-polisiestasie gestasioneer. Op die dag van sy moord het die egpaar hul laaste skof saam gewerk.

Blanche ry steeds met dieselfde silwer VW Polo waarin haar man doodgeskiet is. Sy het gesê die motor is iets wat sy nie kan laat gaan nie.

John, Hattingh se pa, het gesê hy is bly dat die saak nou verby is, maar dat hy ontevrede is met die vonnis. “Agtien jaar is nie genoeg nie, hy kon ten minste 25 jaar gekry het,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Vivian ·

18 jaar om iemand dood te mask en hul noem dit lank. Ek sug maar net want regverdiglik is dit sy lewe word geneem vir die lewe wat hy geneem het.

Gerald ·

Nou verstaan ek nie die vonnis nie,10jaar vir poging tot moord,maar die persoon is dood!!! 15 jaar vir die besit van onwettige vuurwapen? 10 jaar vir die ammunisie? Het dit dieselfde waarde as mense lewe? Om ‘n ongelisensieerde vuurwapen te besit is ‘n groter oortreding as moord? Jammer ek verstaan nie!

AL ·

18 jaar is n belaglike vonnis vir n lewe wat geneem is, n vrou wat sonder haar mede-broodwinner is en 2 kinders wie die liefderike sorg van n ouer ontneem is.
G’n wonder wetteloosheid groei soos onkruid in hierdie land nie!
Die howe moet hulself regruk!

Skybird ·

Jammer vir diè familie, ek ook in dié Diens, jy Mag nie MOONLIGHTING doen om jou inkomste te vergroot nie, Jy werk alleen en het geen “backup “op daai stadium nie, Sorry vir GREED , Ek simpasieër

KarenG ·

Alhoewel hy nie ekstra werk mag doen nie, kan jy ook nie net aanneem dis greed nie. Jy weet nie wat sy omstandighede was wat hom genoop het om die ekstra werk te doen nie.

Ange ·

As hy in sy vrye tyd ekstra werk doen is dit nie teen die wet nie. Hy mag dit net nie in werksure gedoen het nie. Jy mag nie vir twee maatskappye werk nie, die artikel se niks dat hy vir n maatskappy gewerk het nie. As hy dit persoonlik, op sy eie gedoen het is dit n ander saak.

Ekke ·

Haai! I rest my case!! So min vonis vir ‘n mens se lewe!! bring asseblief weer die doodstraf terug! Daar sal aansienlik minder moord gepleeg word in ons land! Hulle is bang om te sterf maar vermoor asof dit maar ok is! Wat wou: die Bybel se “n oog vir ‘n oog!

Dirk ·

Hier het ons ‘n moordenaar, sonder berou en wat lieg vir die hof. En hy kry 18 jaar waarvan hy seker net 10 of 12 sal spandeer in die tronk. Kom ons vergelyk dit met die Moot moordenaar wat sy skoonma vermoor het. Hy het berou en aan die hof erken dat hy haar vermoor het. Dit sal interessant wees om te sien watter vonnis die hof aan ‘n eerlike moordenaar toedien.

Afrikaanse Knaap ·

Maar maak nou ‘n ANC man dood dan sit jy verwewig. Ons regering en hul dubbel standaarde maak my naar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.