PE man skiet 2 dood, wond 3 voor hy wegjaag

isdaad-polisie-crime-scene-kent-williamson-3

Argieffoto: Kent Williamson

Twee mense is dood en drie ander gewond toe ʼn man van Port Elizabeth in die Oos-Kaap Vrydagaand losgebrand het op ʼn groep mense in die noordelike gedeelte van dié stad.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, sê ʼn groep mense het glo staan en kuier in Windvogel toe ʼn bakkie hulle genader het. Volgens Naidu het die passasier sy ruit afgedraai en op die groep losgebrand voordat die bestuurder van die bakkie weggejaag het.

Naidu het gesê een van die mans wat beseer is, is ʼn polisieman wat nie aan diens was nie.

“Die polisie het twee sake van moord en drie van poging tot moord oopgemaak. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie,” sê sy.

Volgens Naidu is dié voorval die tweede dubbele moord wat die afgelope week in Port Elizabeth se noordelike woonbuurte plaasgevind het. Twee mans is vroeër die week ook vanuit ʼn bewegende motor doodgeskiet.

Daar word vermoed dat die voorval met bendegeweld verbind kan word. Albei voorvalle word tans deur die polisie ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.