PE-man skuldig bevind vir polisieman se moord

Charles Nqaba in die hof nadat hy skuldig bevind is. Foto: Raahil Sain/ANA

Charles Nqaba in die hof nadat hy skuldig bevind is. Foto: Raahil Sain/ANA

Oomblikke nadat Charles Nqaba (26) Woensdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth skuldig bevind is vir die moord op ʼn polisiebeampte, het hy sy hande in die lug gesteek en vuurwapentekens vir sy vriende in die openbare galery gewys.

Nqaba is skuldig bevind vir die moord op konst. Devin Hattingh, ʼn pa van drie, wat in Julie 2014 doodgeskiet is nadat hy ʼn vragmotor na Motherwell vergesel het. Hy was van diens af ten tyde van die voorval en het ekstra veiligheidswerk gedoen om sy inkomste aan te vul.

Nqaba het geen teken van ontsteltenis gewys toe hy op aanklagte van moord, poging tot moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie skuldig bevind is nie. Hy was voorheen op borgtog vrygelaat, maar sal nou in polisieaanhouding bly.

Naasbestaandes van konst. Devin Hattingh in die hof. Foto: Raahil Sain/ANA

Naasbestaandes van konst. Devin Hattingh in die hof. Foto: Raahil Sain/ANA

Sy medebeskuldigde, Jabulani Mkaba (28), wat dwarsdeur die verhoor in polisieaanhouding was, is op al die aanklagte teen hom vrygespreek.

Regter Phakamisa Tshiki het in sy uitspraak gesê die bewyse teen Nqaba was oorweldigend. “Na my mening is die bewyse teen [Mkaba] nie genoeg om tot die gevolgtrekking te kom dat die staat ʼn saak teen hom bewys het nie,” het Tshiki gesê.

“Wat Nqaba betref het die staat bo alle redelike twyfel sy saak bewys. Nqaba het tydens die verhoor gelieg en die hof mislei oor baie van die kwessies teen hom.” Tshiki het gesê Nqaba is die “outeur” van die gebeure wat tot Hattingh se dood gelei het.

Hattingh en sy vrou, Blanche, was albei by die Mount Road-polisiestasie gestasioneer. Op die dag van sy moord het die egpaar hul laaste skof saam gewerk. Blanche ry steeds met dieselfde silwer VW Polo waarin haar man doodgeskiet is. Sy het gesê die motor is iets wat sy nie kan laat gaan nie.

Konst. Devin Hattingh.

Konst. Devin Hattingh.

Kort nadat die uitspraak gelewer is, het lede van Hattingh se familie gesê hulle het nou meer afsluiting, hoewel dit nooit Hattingh as ʼn seun, ʼn pa en ʼn eggenoot kan terugbring nie. “Dit sal hom nie terugbring nie, maar dit is tot ʼn mate ʼn verligting en bring ʼn soort vrede vir my, my kinders en my familie. Ek voel geregtigheid het geskied, dit is ʼn stap in die regte rigting,” het Blanche gesê.

John, Hattingh se pa, het gesê hy sou daarvan gehou het as Mkaba ook agter tralies gesit is. “Ek sou bly gewees het as beskuldigde nommer twee ook skuldig bevind is. Ek dink hy het baie daarmee te doen gehad,” het hy gesê.

Adv. Jodine Coertzen vir die verdediging het die hof gevra om in ag te neem dat Nqaba ʼn eerste oortreder is en dat die motief vir die misdaad, volgens haar, was om aanvaarding van sy portuurgroep te kry. Coertzen het die hof gevra om Nqaba 20 jaar tronkstraf op te lê.

Adv. Jason Thysse, die staatsaanklaer, het gesê Nqaba het geen berou vir sy dade getoon nie. Hy het versoek dat Nqaba tot lewenslange tronkstraf gevonnis word vir die moord.

Nqaba sal op 28 Maart gevonnis word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

PJ ·

Hy toon geen berou nie…sluit hom toe en gooi die sleutel in die see. Walglike verskoning vir ‘n mens!

Sarel Strydom ·

Ek weet die verdediging doen net haar werk en om te verseker die ou nie later apelleer weens swak verteewoordiging nie,maar versagtinde omstandighede Aikona.

jaco ·

n swart man vermoor n wit man en die staatsaanklaer vra vir ‘n lewenslange vonnis??? Iets klink nie reg nie, of is daar dalk tog nog ‘n mate van regverdigheid en kleurblindheid in ons regstelsel?

Hanna ·

En nou moet die vuisvoos belastingbetaler hierdie gewetenlose skurk ook nog in die tronk onderhou. Doodstraf het nog altyd vir my sin gemaak.

Frik ·

Ja en so probeer ons moordenaars los kry sodat hulle net weer kan moor.

AL ·

Die vark moet lewenslank kry sonder parool. Miskien is daar iemand wat binne help dat ons belastinggeld nie te lank gemors word op n ekskuus vir n asem nie….

Edna ·

Hy juig want hy weet hy gaan nie lank tronkstraf kry nie en hy kry op die koop toe GRATIS kos , medies en geleentheid om verder te studeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.