PE-man weke na aanranding oorlede

Charl Meyer. Foto: Facebook

Charl Meyer. Foto: Facebook

Charl Meyer, ʼn werknemer van die Nelson Mandelabaai Munisipaliteit, wat meer as vier weke gelede buite sy kantoor in Port Elizabeth aangerand is, is Sondag oorlede.

Willem Petzer, ʼn goeie familievriend, het Meyer se dood aan Maroela Media bevestig. “Al Charl se vriende en mense wat hom geken het, kan dit nie glo nie. Dit is verskriklik,” het Petzer gesê.

Volgens Petzer is Meyer glo laat die aand buite sy kantoor deur ‘n verdagte oorval en erg aangerand. Die aanvaller het glo sy selfoon en sakmes gesteel. Meyer kon daarin slaag om terug te gaan na sy kantoor en hulp te ontbied en hy is na ʼn hospitaal gehaas.

“Soos ek verstaan, is hy erg aangerand en sy wangbeen was onder meer gekraak, maar hy kon nog vertel wat gebeur het. Hy is ontslaan, maar is ʼn paar dae later weer opgeneem toe dit duidelik geword het hy is eintlik baie erger beseer,” het Petzer gesê. Meyer is in die hospitaal se waakeenheid opgeneem en is weke later weens breinbloeding en bloedklonte wat gevorm het, oorlede.

“Ek het Charl in 1991 leer ken en hy was nog altyd ʼn pligsgetroue, lojale mens; iemand wat jy nie sou dink vyande kon gehad het nie,” het Petzer gesê. “Hy was so ʼn opregte mens, die beste vriend waarvoor jy ooit kon vra. ʼn Ware heer vir wie almal lief was. Hy sal so baie gemis word.”

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê een verdagte, Michael Maartens, is vroeër in verband met die aanval in hegtenis geneem. Hy het reeds in die hof verskyn en is op waarskuwing vrygelaat.

Naidu het gesê die klag van aanranding sal nou moontlik verander word na een van moord, maar die ondersoekspan wag eers op die uitslae van die nadoodse ondersoek voordat dit finaal bevestig kan word. Sy kon nie onmiddellik bevestig of Maartens weer in hegtenis geneem sal word of wanneer hy weer in die hof sal verskyn nie.

ʼn Roudiens vir Meyer sal na verwagting Vrydag om 14:00 by die NG Kerk Vanstadensrivier gehou word. Charl laat sy vrou, Marzane, agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

m ·

Sjoe moes die hospital nie scans laat doen het nie dan sou hulle mos gesien het die man het ernstige beserings. Vra ma net!!!!! Ek lees maar nalatigheid aan die hospitaal se kant in hierdie storie. Sterkte aan die man se familie.

Asjas ·

Stem 100% saam! Maar wat verwag ons as vandag se dokters net 45% van hul werk hoef te ken?

Sarel Strydom ·

Vrygelaat op waarskuwing? Wie was daarvoor verantwoordelik. Weer iemand van die NVG wat nie sy of haar werkgedoen het nie.

François ·

Ek sal graag wil weet hoekom die beskuldigde, ene Michael Maartens op waarskuwing vrygelaat is na die oorspronklike aanranding & hoekom daar nou gewonder word of die ene Mnr Maartens weer in hegtenis geneem sal word of die klagstaat na moord verander gaan word of hy direk in die hof gaan verskyn?! Gaan my skraal Karoo verstand heeltemal te bowe dat daar soveel dubbele standaarde in hierdie liewe regstelsel van ons land is!

MM ·

Ja en nou is dit moord. ek wonder wat nou gaan gebeur met ” waarskuwing” ? want die klagte teen Maartens het nou drasties verander.

jaco ·

Hy is seker by ‘n staatshospitaal behandel, waar niemand anyway worry oor wat hulle doen nie. En hy was wit, wat beteken die staatshospitaal se personeel het nog minder omgegee. Ek dink sy ras het ook baie daarmee te doen dat die een wat hom aangerand het net ‘n waarskuwing gekry het.

Jessica ·

Charl was nie in n staatshospitaal behandel nie. Hy was in st georges hospitaal.

Hannelie ·

Innige simpatie aan sy familie. Wel wat verwag ons, die meeste hospitale het onbevoegde dokters aangestel en hul hoef net 45% van hul werk te ken. My ma was na ‘n staatshospitaal in Noord-Wes (gaan nie die hospitaal se naam noem nie) maar sy sit heel dag ek wag vir die dokter, dan sê hulle haar na ‘n dag se gewag, kom maar more weer, die dokter het nie opgedaag nie. PATETIES!!!!

kaaskop ·

Ek vind dit skandalig dat hier meer kommentaar is wat die arme oorwerkte, onderbetaalde staatsdokters kritiseer as mense wat die aanvaller kritiseer. Ek het ‘n familielid wat ‘n dokter in ‘n staatshospitaal in PE is en sy werk lang ure, vir baie minder geld as wat sy in die privaatsektor kan verdien. Sy sou enige plek in die wereld kon werk, maar kies om mense te help. Julle behoort julle te skaam vir julle kommentaar.

Wilna ·

Die hartseerste van die HELE storie is daar sal niks verder aan die saak gedoen word nie. Al se die polisie of wie okal die ondersoek sal voortgaan, weet ons ALMAL dis n klug en niks sal daaraan gedoen word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.