PE-mesaanval: Staat wag op psigiatriese inligting

Martin en Anne-Marie Stevens. Foto: Facebook

Martin Stevens (47), die man van Port Elizabeth wat daarvan beskuldig word dat hy sy vervreemde vrou verskeie keer met ʼn mes gesteek het, het Woensdag weer in die plaaslike landdroshof verskyn.

Maroela Media het vroeër berig Stevens het homself vier dae ná die aanval aan die polisie oorgegee. Stevens word aangekla van poging tot moord nadat hy in Oktober 2015 na bewering sy vrou, Anne-Marie, buite ʼn vriendin se woonstel in Sydenham aangeval en met ʼn mes gesteek het. Anne-Marie is sedert die aanval in ʼn rolstoel en het heeltydse versorging nodig.

Stevens word deur die bekende prokureur Alwyn Griebenow verteenwoordig. Die saak teen Stevens is voorheen by verskeie geleenthede uitgestel en hy is uiteindelik vir sielkundige waarneming na die Fort England-psigiatriese hospitaal gestuur.

Die saak is verlede maand uitgestel sodat ʼn voorlopige verhoordatum vasgestel kon word. Die hof het egter Woensdag gehoor die staat wag steeds op inligting van die Fort England-psigiatriese hospitaal in verband met Stevens se behandeling daar.

Die saak is tot 16 Mei uitgestel. Stevens is tans uit op borgtog.

Stevens is in 2000 aangekla van moord nadat hy sy eerste vrou, Hettie, en haar vriend, Colin Rosslee, doodgeskiet het. Hy het homself daarna geskiet, maar dit oorleef. Stevens is destyds vrygespreek nadat die hof bevind het hy het ʼn sielkundige ineenstorting gehad ten tyde van die moorde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

lorayne ·

Sterkte vir jou Anne-Marie! En jou aanvaller wat reeds 2 moorde gepleeg het, verkeer op vrye voet. . . as fit as a fiddle! Dan wonder mens oor reg en geregtigheid. . .

AL ·

Duidelik het hy nog nie van sy ineenstorting genees dat hy weer wou moor nie!
Lagwekkende regstelsel.

Landi ·

Ja tipies in Suid Afrika, hy pleeg moord maar loop vry rond net om nog meer skade aan te rig. Sluit die siek blikskottel op en gooi die sleutel weg sodat hy ophou kan moor en links en regs skiet.

Cherokee ·

Hy skiet raak wanneer hy op ander skiet maar mis wanneer hy na himself mik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.