PE-ontvoering: Verdagte kry borgtog

hof-hamer

Argieffoto.

Een van die mans wat beskuldig word van die ontvoering van ʼn tienjarige seun by ʼn naskoolsentrum, is in die Port Elizabeth-landdroshof op borgtog vrygelaat.

Leon Bekkies is op borgtog van R1 000 vrygelaat en die saak teen hom is tot 20 April uitgestel. George Malgas, Bekkies se regsverteenwoordiger, het vroeër aangedui dat sy kliënt bereid is om ʼn staatsgetuie te word en teen sy medebeskuldigde te getuig.

Volgens Malgas is Bekkies se weergawe dat hy onbewustelik by die beweerde ontvoering betrek is, deur die hof aanvaar. Volgens die klagstaat het die ontvoerder ʼn losprys van R50 000 van die ontvoerde seun se pa geëis.

Denro Williams, die ander beskuldigde, se borgaansoek gaan intussen voort. Die staat het aangedui dat Williams met die saak verbind word aangesien sy rooi VW na die toneel gevolg is en hy in besit was van sleutels wat behoort aan Horizon Staff Solutions, waar die seun glo aangehou is.

Dit het verder aan die lig gekom dat Williams ʼn werknemer by dié agentskap is en die enigste persoon is wat toegang gehad het tot die sleutels van die perseel. Die staat voer aan dat Williams en ʼn derde verdagte die baasbreine agter die ontvoering is. Williams het glo vroeër aangedui dat hy en sy familie gedreig is en dat die ontvoering om dié rede plaasgevind het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.