PE-pa skuldig ná hy vrou voor kinders vermoor

Argieffoto

Argieffoto

ʼn 45-jarige pa van drie is Dinsdag skuldig bevind op aanklag van die moord op sy vrou by hul huis in Motherwell, Port Elizabeth, in Oktober 2013.

Die man, wie se naam nie bekend gemaak word nie om die identiteit van sy minderjarige kinders te beskerm, het sy vrou herhaaldelik met ʼn broodmes gesteek.

Die man het vroeër aangedui hulle het huweliksprobleme gehad en hy het die dag by die huis opgedaag en sy vrou in die bed gevang saam met ʼn ander man.

Hy het tydens ʼn vorige getuienis aangevoer hy het uit selfverdediging opgetree en “kon nie ophou [om haar te steek] nie, selfs al wou hy”.

ʼn Forensiese patoloog het aangedui 14 meswonde is op die vrou se liggaam gevind.

Regter Irma Schoeman het in haar uitspraak gesê dit is duidelik die man het nie uit selfverdediging opgetree nie, en het sy getuienis verwerp.

Schoeman het gesê die egpaar se seun, wat 11 jaar oud was ten tyde van die voorval, was ʼn geloofwaardige getuie. “Dit is duidelik uit sy getuienis dat die beskuldigde woedend was vir die oorledene.”

Volgens die staat het die 45-jarige man, wat in daardie stadium as ʼn tegnikus by ʼn munisipaliteit gewerk het, sy vervreemde vrou herhaaldelik in haar bolyf, kop en rug gesteek terwyl twee van die kinders, ʼn sesjarige dogtertjie en haar 11-jarige boetie, in die huis was.

Die man se dogter, wat nou nege jaar oud is, het vroeër getuig hoe sy agter die slaapkamerdeur na die sitkamer geloer het waar haar ouers oor R49 000 baklei het. Die meisie het gesê sy het gesien hoe haar pa ʼn mes gebruik om haar ma te steek. Sy het hom gesmeek om op te hou.

Getuienis van die 11-jarige seun dui daarop dat hy ook gesien het hoe die pa die ma aanval, en die hof het gehoor hy het sy slaapkamerdeur toegemaak, en toe weer oopgemaak om sy klein sussie te gaan haal om by hom te wees.

Al drie kinders is intussen vervreem van hul pa en gebruik ook nie meer sy van nie.

Die kinders se oupa het aan verslaggewers buite die hof gesê die familie is verlig dat geregtigheid geskied het. “Ek voel elke dag beter. Ek kan vanaand rustiger slaap,” het hy gesê. “Die kinders is oukei, die meisie droom nog van haar ma en sy huil nog soms in haar slaap. Elke jaar op haar ma se verjaarsdag wil sy hê ons moet partytjie hou,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

charlene ·

Ek hoop hy sit vir baie lank!! Nie net vir die moord nie maar vir wat hy aan sy kinders gedoen het, hoe gaan daai kinders net bloot weg aan, wat hulle moes aanskou het is onmenslik. Normale mense laat nie eens toe dat ons kinders sulke goed op tv sien nie en hier kom hy en dit dit net so voor die ander kinders, en dis duidelik hy het nie gestop sy sy klein dogtertjie van maar net 6 hom smeek om te stop nie. Hy verdien nie die kinders se liefde nie en ek hoop die oupa kyk mooi na hulle, hulle het nou extra liefde en aandag nodig. Sterkte aan julle

Steeds Geskok (Port Elizabeth) ·

‘n Lewe is in Port Elizabeth nie veel werd nie. Dave Schwarz, wat sy vrou, Sonia Schwarz op 19 Oktober 1997 in hule huis voor hulle 6- en 8 jarige kinders met ‘n byl doodgekap het, het slegs ‘n vyf jaar vonnis gekry waarvan hy slegs 10 maande uitgedien het. Sy verweer was dat hy “weens ‘n sielkundige toestand” nie tussen reg en verkeerd kon onderskei nie”. Hulle dogtertjie het met haar vingertje na hom gewys en vir hom gesê: “Jy het haar gekap ….. jy het haar doodgekap”.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.