PE-paartjie vas weens kinderpornografie

kinderpornografie

Argieffoto

ʼn Span spesialisspeurders van die polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe (FCS) het vandeesweek ʼn paartjie van Port Elizabeth in die Oos-Kaap in hegtenis geneem weens die besit en verspreiding van kinderpornografie.

Lt.genl. Solomon Makgale, polisiewoordvoerder, het Donderdag gesê die inhegtenisneming volg ná ʼn gesamentlike poging met die Belgiese polisie en Amerikaanse FBI.

“Terwyl speurders die paartjie se huis deursoek het, het hulle op 15 hardeskywe, twee selfone, 124 CD’s, ʼn kamera en datakaarte afgekom en daarop beslag gelê,” het Makgale gesê.

Die paartjie, ʼn 33-jarige man en 22-jarige vrou, het reeds in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn en is op borgtog van R5 000 elk vrygelaat. Hulle moet weer op 24 April in die hof verskyn.

Die paartjie is glo deel van ʼn internasionale kinderpornografienetwerk. “Hul inhegtenisneming volg nadat owerhede in België ʼn paar maande gelede ʼn man in Antwerpen in hegtenis geneem het nadat verbode materiaal in sy besit gevind is. Verdere ondersoek het in Februarie tot die inhegtenisneming van ʼn 37-jarige man van Plettenbergbaai in die Wes-Kaap gelei,” het Makgale bygevoeg.

Die polisie het inligting op die man se rekenaar gekry wat tot die inhegtenisneming van die paartjie gelei het. Hul inhegtenisneming volg kort nadat dieselfde speurders van die FCS verlede week ʼn man van die Oos-Kaap weens ʼn soortgelyke oortreding aangekeer het.

Maroela Media het Maandag berig die 53-jarige man wat in verband met kinderpornografie by sy huis in Grahamstad in die Oos-Kaap in hegtenis geneem is, gaan moontlik na Amerika uitgelewer word.

Die verdagte is verlede Woensdag in hegtenis geneem ná ʼn gesamentlike poging met die FBI. Die meeste van die materiaal wat in die man se besit was, spruit uit Amerika. Hy het intussen in die Grahamstad-landdroshof verskyn en is op borgtog van R50 000 vrygelaat. Hy moet weer op 28 April in die hof verskyn op aanklag van die besit, vervaardiging en verspreiding van kinderpornografie.

Makgale het beklemtoon dat die man van Grahamstad se inhegtenisneming nie verband hou met die paartjie van Port Elizabeth nie, hoewel die sake soortgelyk is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pierre Celliers ·

Kroniese siek mense wat, sonder versuim, uit die samelewing verwyder moet word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.