PE-sakeman vry na verkragtingaanklag

Argieffoto

Argieffoto

Johann Dreyer, ʼn sakeman van Port Elizabeth, wat deur twee voormalige werknemers van verkragting en seksuele aanranding beskuldig is, is onskuldig bevind.

Dreyer is Donderdag in die plaaslike streekshof onskuldig bevind, nadat hy skuld ontken het op al drie aanklagte teen hom. Twee vroue het beweer Dreyer het hulle in Augustus 2014 onderskeidelik verkrag en seksueel aangerand.

Hy is die eienaar van bekende verblyfplekke insluitend Beacon Lodge, Crow’s Nest en die King’s Tide Boutique Hotel aan die strandfront.

Landdros Lionel Lindoor het Donderdag vlugtig deur Dreyer se pleitverduideliking en sommige besonderhede uit die klaers se getuienis gewerk. Die klaers se getuienis was nie voorheen beskikbaar nie, aangesien dit in camera aangehoor is.

Dreyer het in sy pleitverduideliking beklemtoon die drie vroue wat getuig het, was deel van ʼn komplot om hom “by te kom” omdat hy hulle afgedank het nadat hy nie tevrede was met die standaard van hul werk nie.

Lindoor het in sy uitspraak verwys na die Shrien Dewani-moordsaak wat in 2014 deur die regter uit die hooggeregshof in Kaapstad gegooi is. “Die regter het bevind geloofwaardigheid kan nie doodgewoon geïgnoreer word as getuies ooglopend lieg nie,” het hy gesê. Lindoor het bygevoeg hy dink nie enige van die klaers kan hul getuienis op enige manier staaf nie.

Hy het gesê dit het nie vir hom sin gemaak dat een van die klaers die saak eers agt maande nadat sy afgedank is, aangemeld het nie en hy het verskeie teenstrydighede in haar getuienis gevind. “Sy het verskeie geleenthede gehad om die beweerde voorvalle aan te meld, maar het bewustelik gekies om dit nie te doen nie. Sy het ʼn dokter gaan sien, maar het verkies om nie haar dokter van die beweerde verkragting te vertel nie,” het Lindoor gesê.

Volgens Lindoor het die tweede klaer Dreyer nooit gekonfronteer oor sy beweerde onvanpaste gedrag van “drukkies en soentjies” met haar nie. “In haar bedankingsbrief verwys sy glad nie na enige seksuele gedrag nie, maar bedank [Dreyer] vir die geleentheid,” het hy gesê.

Lindoor het ook bevraagteken waarom die klaer nóg ʼn werksaanbod van Dreyer aanvaar het. “As sy so ontsteld was, sou sy nie nog ʼn werksaanbod aanvaar het nie.”

Hy het afgesluit deur te sê die bewyse was van ʼn swak gehalte en hy was nie tevrede dat die klaers se getuienis geloofwaardig genoeg was om Dreyer skuldig te bevind nie. “Ek sê nie hulle lieg nie, maar wanneer daar holisties na die getuienis gekyk word, is dit nie genoeg om die beskuldigde skuldig te bevind nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Berhalet Beukes ·

Dit walg my dat vrouens so laag kan daal en ‘n onskuldige man se reputasie deur die modder probeer sleep uit pure gemeenheid!Ek sou wragtig ‘n saak van naamskending teen hulle indien NET om ‘n punt te maak! Die hekse!

Eelke ·

En dit meer Berhalet is dat as so iets regtig gebeur met ander vroue, hulle nie geglo gaan word nie om rede die girls dink hulle kan gou n paar rand maak of dalk net wraak neem op iemand. Dit is hartseer.

Dee ·

Berhalet, ‘n lastereis is nie so maklik nie. Miskien besit hulle nie genoeg om die kostes wat die klaer sal moet aangaan om so ‘n eis in te stel, te *dek nie.

Vic ·

Ned wat. Mens moet maar net elke saak op meriete beoordeel. Ek is seker daar is maar net soveel vroue wat wel aangerand word maar nie geregtigheid kry nie, as wat daar mans is wat onskuldig beskuldig word.

Tienie ·

Ek het al verskeie kere in en buite die boubedryf gesien hoe vroulike werknemers ‘n ongegronde klagte van die aard lê wanneer hulle voel dat hulle tenagekom is. Gewoonlik vind ‘n arrestasie plaas en wanneer hulle geld ontvang het is die saak teruggetrek. Om die rede het ek, as alleenlopende wit man, ‘n manlike huishulp.

Peet Grobbelaar ·

Ek wonder hoe “gooi ‘n regter ‘n saak uit die hof uit” Gooi hy bloot die dossier by die venster uit of gooi hy die klaers uit of hoe werk dit???

Flippie ·

En ek neem nou aan dat dit die arme man ‘n paar honderd duisend Rand gekos het om sy ondkuld te bewys. Hy moet ook nou deur die trauma wat met die saak gepaard gaan verwerk. Hy moes sy fokus van sy besigheid weg neem vir die tyd. Sy besigheid sou ook skade gelei het as gevolg van die beweringe teen die eienaar. Nog erger sy vehouding met sy families sou sekerlik ook gemaak gewees het.

DIE STAAT HET BESLUIT OM TE VERVOLG. DUS BEHOORT DIE STAAT NOU TE KOMPENDEER. DIE STAAT HET VOORAF GEWEET WAT DIE GETUIENIS TEEN DIE MAN WAS.

IN VANDAG SE TYD VERVOLG DIE NVG TE MAKLIK. DAAR IS GEEN MEGANISME OM DIE POLISIE OF DIE NPG OF DIE MAGISTRATE OF REGTERS TE “STRAF” VIR KWAADWILLIGE ARRESTASIE, VERVOLGING OF VRRHOOR NIR BEHALWE OM SIVIEL TE VERVOLG NIE. EN DIT VAT JARE EN KOS HONDERDE DUISENDE RANDE.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.