PE se perlemoen-baasbrein gevonnis

Morne Blignaut in die hooggeregshof in Port Elizabeth. Foto: Raahil Sain/ANA

Morne Blignaut, die baasbrein van  ʼn multimiljoenrand-perlemoenonderneming, is Woensdag tot effektief 20 jaar agter tralies in die hooggeregshof in Port Elizabeth gevonnis.

Blignaut het vroeër vandeesmaand skuld erken op twee aanklagte van rampokkery en ʼn aanklag van oortreding van die Wet op Lewende Mariene Hulpbronne. Hy het aanvanklik onskuldig gepleit op die aanklagte, maar het ʼn ommeswaai gemaak toe dit duidelik geword het die staat het oorweldigende bewyse teen hom.

Regter Dayalin Chetty het gesê Blignaut se bekentenis het aan die lig gebring dat hy die ware meesterbrein agter die misdade was.

Chetty het gesê Bliganut se skulderkenning is nie ʼn aanduiding van opregte berou nie en het gesê indien hy werklik berou gehad het, sou hy, voor sy verhoor van sy destydse medebeskuldigdes sʼn geskei is, volle verantwoordelikheid vir sy rol geneem het.

Hy het gesê Blignaut is ontmasker as “die aartsskurk” in die wydverspreide plundering van perlemoen uit kuswaters.

Chetty het bevind Blignaut se rol in die “transnasionale misdaadsindikaat” was integraal tot sy sukses, en gegewe hoe lank die bedrywighede op die Olifantskopplaas aangegaan het, moes dit ruim finansiële vergoeding opgelewer het.

Die Oos-Kaapse teenstropingseeheid in die hof. Foto: Raahil Sain/ANA

“Die omvang van die onderneming se bedrywighede het ver verby die provinsiale grense gestrek. Dit is nie te betwyfel dat ʼn aansienlike hoeveelheid van die perlemoen wat gevind is sy oorsprong in die Wes-Kaap gehad het nie, en sonder twyfel bygedra het tot die plundering en uitputting van die hulpbronne langs die Oos-Kaapse kuslyn.”

Chetty het gesê Blignaut se vorige skuldigbevinding aan die besit van ʼn massiewe hoeveelheid perlemoen kan nie geïgnoreer word nie, en het bygevoeg dit dui daarop dat hy ʼn geneigdheid het om ʼn reeksoortreder te wees.

Intussen het adv. Warren Myburgh van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se batebeslagleggingseenheid ʼn aansoek gebring vir ʼn beslagsleggingsbevel ter waarde van R67 miljoen. Die NVG wil bepaal of Blignaut finansieel voordeel getrek het uit geld wat deur onwettige bedrywighede bekom is.

Die saak is tot 7 Desember uitgestel wanneer die saak oor die bevelaansoek aangehoor sal word.

Blignaut, ʼn bekende sakeman en voormalige nagklubeienaar, was een van ses mense wat in hegtenis geneem is nadat die polisie ʼn klopjag uitgevoer het op hul perlemoenverwerkingsonderneming op die Olifantskop-plaas net buite Port Elizabeth.

Ao. Leon Eksteen, adv Martin le Roux en kapt. Kanna Swanepoel buite die hooggeregshof in PE. Foto: Raahil Sain

Sy medebeskuldigdes, sy eksvrou, Marshelle Blignaut, Jacob Naumann, Frederick Nance, Petrus Smith en Willie Smith, het verlede maand skuldig gepleit op ʼn reeks aanklagte, onder meer rampokkery en die onwettige handel van perlemoen.

Al vyf het hul rug op Blignaut gekeer en was bereid om teen hom te getuig. Hulle sal na verwagting Donderdag gevonnis word.

Nog drie mans, Huang Zhenyong, Pan Kekun en Brett Killian, is in 2015 gevonnis vir hul betrokkenheid by die sindikaat. Zhenyong en Kekun is drie jaar tronkstraf opgelê, terwyl Killian staatsgetuie gedraai het en ʼn opgeskorte vonnis van een jaar en korrektiewe toesig ontvang het.

Gedurende Julie 2013 tot Augustus 2014 is perlemoen wat onwettig langs Suid-Afrika se kus gestroop is onwettig na die onderneming vervoer waar dit onwettig verwerk is. Van hierdie voorvalle is op video vasgevang.

Tydens die polisie se ondersoek is daar beslag gelê op 37 356 eenhede perlemoen in verskillende fases van verwerking. Die gewig van die perlemoen was meer as ses ton en die geraamde waarde was R5 258 300.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

vissie ·

mooi sou ‘n langer vonnis wou sien. ouens soos hy het veroorsaak dat ek self nie meer ‘n perlemoen mag duik op vakansies en geniet vars uit die see nie. Plus betaal jy nou ‘n plaas se prys vir een klein perlemoen in ‘n restuarant en is nie eers vars nie. Sit hom ver weg en hou hom dop wan’t hy sal nog sy besigheid uit die tronk mee voortgaan as hy ‘n foon kry.

christa ·

sluit hom toe en verloor die sleutel. Konfiskeer al sy eiendom asook sy helpers. Want skelm is hulle voorwaar

Johann cb ·

Ongelukkig is daar nog heelwat van hierdie ouens wat nog op vrye voet is! Hoop hulle word binnekort vasgevat! Verwyder hulle gerus uit die samelewing! Nelson Mandelabaai is ‘n mekka vir hierdie oortreders!

Skyspy007 ·

Hy gaan sekerlik nou vir hom ‘n “nagklub” agter die tralies open en bestuur…..

Christien vd Westhuizen ·

N man word 20 jaar gevonnis vir die plundering van bronne in die oos kaapse kus WAT van die plundering van die staatskas en munisipaliteite eskom prasa sauk eskom ens ens so kan dit aangaan

humor ·

Hierdie plundering aan die kus is tog oop en blood. Hoekom word die plunderaars eers gevang wanneer die perlemoen klaar in die verwerkte stadium is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.