PE-studente aangeval: Nog ʼn verdagte vas

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Derde verdagte is in hegtenis geneem in verband met die kaping van ʼn studentepaartjie by die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU), waartydens die man doodgeskiet en die vrou verkrag is.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê die 26-jarige man is Dinsdagmiddag in New Brighton vasgetrek. “Dit is nog nie duidelik wanneer hy in die hof sal verskyn nie. Hy sal moontlik môre saam met die ander twee verdagtes verskyn, andersins sal hy Vrydag verskyn,” het Naidu gesê.

ʼn 18-jarige man en ʼn 17-jarige seun is ook vroeër in verband met die voorval vasgetrek.

Maroela Media het vroeër berig Thambani Ngwekazi (28) en sy 21-jarige vriendin is op 13 Augustus omstreeks 21:30 in Noordeinde deur gewapende mans oorval. Die aanvallers het die paartjie in die kattebak van die motor gedwing en met hulle na ʼn strand gery, waar hulle die vrou glo verkrag en Ngwekazi ʼn paar meter van die motor doodgeskiet het. Die aanvallers het die vrou hierna in die middestad afgelaai.

Die paartjie se motor is dae later verlate in Kwazakhele gevind. Ngwekazi was besig om homself as paramedikus te bekwaam. Sy vriendin studeer aptekerswese.

Nog twee verdagtes was moontlik betrokke en word nog gesoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.