PE-visserman in Mosambiek vermis

'n Onlangse foto van Cornelius van der Westhuizen. Foto: Verskaf

‘n Onlangse foto van Cornelius van der Westhuizen. Foto: Verskaf

Die polisie in Port Elizabeth het ʼn soektog van stapel gestuur na ʼn plaaslike visserman wat in Mosambiek gewerk en verdwyn het.

Cornelius van der Westhuizen (59) was veronderstel om teen die einde van November na sy huis in Sidwell, Port Elizabeth, terug te keer ná hy ʼn jaar lank by die Maputo-hawe gaan werk het, maar hy het nooit by die huis opgedaag nie.

Renee, Cornelius se vrou, het Woensdag aan Maroela Media gesê haar man is in November 2014 Mosambiek toe om vir Emapum Visserye te gaan werk. Op 18 November 2015 het sy jaar lange kontrak verstryk. “Hy het my in daardie tyd gebel en gesê hy sal tot die einde van die maand in Mosambiek moet bly, omdat hy wag vir sy laaste salaris om uit te betaal,” het sy gesê. “Daarna het ek nooit weer van hom gehoor nie.”

Volgens Renee is die selfoonsein waar Cornelius gewerk het baie swak en kon sy gereeld nie deurkom na sy selfoon toe nie. “Vandat ek laas met hom gepraat het, skakel ek dag en nag sy selfoonnommer, maar daar is telkens net ʼn outomatiese stemboodskap wat in Portugees praat,” het sy gesê.

Sy vertel dat Cornelius in die afgelope jaar ʼn paar keer terug in Suid-Afrika was in die Komatipoort-gebied in Mpumalanga om administratiewe verpligtinge na te kom, maar dat hy in daardie tyd nooit in Port Elizabeth was nie. “Ek het my man meer as ʼn jaar laas gesien.”

“Dit is glad nie in sy aard om net te verdwyn nie. Ons is reeds 15 jaar getroud en daartydens het hy al in Angola en Mosambiek gewerk. Nog nooit het so iets gebeur nie. Ek wil net weet dat hy veilig is. Daar is soveel scenario’s wat in my gedagtes afspeel van wat moontlik met hom gebeur het. Ek is siek van bekommernis.”

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat die polisie ʼn vermistepersoon-saak ondersoek. Enigiemand met meer inligting oor waar Cornelius hom bevind, word versoek om Renee by  083 774 1350 of konst. Ashron Bergman van die Algoa Park-polisiestasie by 041 409 1024 of 074 908 9919 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Langjan ·

iets klink nie vir my reg met die storie nie.ek werk self weg van my huis af,mar as ek kans kry om my vrou te sien dan vat ek dit of ek maak n kans .iets klink regtig nie reg met die hele storie nie

Wouter ·

Ek stem saam. Daar is n slang in die gras. Hy was n paar keer in die land maar maak nie n draai by sy huis nie. Baie vreemd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.