Pecanwood-moord: Mark Zinde weer vir waarneming gestuur

Mark Warona Zinde tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: ANA

Mark Zinde, die seun van die voormalige SAUK-raadslid Hope Zinde, sal weer in Weskoppies- psigiatriese hospitaal in Pretoria opgeneem word vir psigiatriese waarneming.

Die Pretoriase hooggeregshof het Donderdag beslis dat Zinde vir ʼn maand lank waargeneem moet word.

Hy staan tereg op aanklag van moord, besit van dwelmmiddels, aanranding en poging tot moord. Hy het vlugtig voor regter Papi Masopa verskyn.

Die 23-jarige word daarvan beskuldig dat hy sy ma in Junie verlede jaar vermoor het. Hope is ʼn voormalige raadslid van die SAUK, joernalis en nuusleser.

Hy is gevolglik in September vrygelaat op borgtog van R10 000 maar is weer in November 2016 in hegtenis geneem nadat hy glo sy pa, dr. Lebohang Manoto, by sy huis in Walkerville, Johannesburg, aangeval het. Die staat het hom aangekla van aanranding met die doel om ernstig te beseer en poging tot moord.

Die staat voer aan hy het sy ma by hul huis in Pecanwood Estate, Hartbeespoortdam naby Brits, vermoor. Haar liggaam is op 11 Junie 2016 in die kattebak van haar motor gevind.

Zinde is ná sy inhegtenisneming verwys na Weskoppies-hospitaal vir waarneming. Die aanvanklike assessering het daarop gedui dat hy geskik is om verhoor te word en dat hy die hofverrigtinge kan volg. Die verslag het bepaal dat hy nie aan enige geestesversteuring gely het toe hy sy ma vermoor het nie.

Staatsaanklaer Andre Wilsenach het gesê Zinde word weer na die hospitaal teruggestuur gebaseer op die aanranding en poging tot moord.

Die Nasionale Vervolgingsgesag het in Desember ingestem om die twee sake te sentraliseer.

Die saak is tot 29 Augustus uitgestel.

Lees alle vorige berigte oor Hope Zinde op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

DS ·

As hy ‘n afwyking het moet daar mos iewers rekord daarvan wees – iewers moes iemand iets agtergekom het. Nee wat hy speel hierdie speletjie soos ‘n pro.

Scalla ·

Hy makeer niks, speel vir tyd, sluit hom op, jammer doodstraf is nie meer in plek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.