Pecanwood-moord: Seun sy borgtog kwyt

Hope Zinde saam met haar seun Mark. Foto: Facebook

Hope Zinde saam met haar seun Mark. Foto: Facebook

Mark Warona Zinde, wat verdink word van die moord op sy ma, Hope Zinde (50), se borgtog is Maandag in die Brits-landdroshof teruggetrek.

Zinde was uit op R10 000 borgtog toe hy in November weer in hegtenis geneem is nadat hy glo sy pa, dr. Lebohang Mohale Manoto, aangeval het.

Hy het sy pa na bewering op 6 November met ʼn glas in die gesig geslaan terwyl Manoto ʼn koerant by sy huis in Walkerville, suid van Johannesburg, gelees het. Hy het kort daarna in die Vereeniging-landdroshof verskyn op aanklag van aanranding. Die hof het die saak tot Desember uitgestel omdat hulle op ʼn verwysingsbrief van Zinde se dokter wag.

Staatsaanklaer Hanna Conradie het Maandag in die Brits-landdroshof, waar hy teregstaan op aanklag van moord, versoek dat Zinde se borgtog teruggetrek word aangesien hy nie voldoen het aan die borgtogvoorwaardes wat aan hom gestel is toe hy op 20 September vrygelaat is nie.

Conradie het onder meer gesê Zinde het nie daagliks by die De Deur-polisiestasie aangemeld soos in sy borgtogvoorwaardes uiteengesit is nie.

Adv. Francois Joubert, Zinde se regsverteenwoordiger, het nie die staat se aansoek teengestaan nie. Joubert het gesê hulle wil die borgtog kanselleer en die R10 000 terugbetaal aan Zinde se pa.

Die verdediging wil poog dat Zinde weer by die Weskoppies- psigiatriese hospitaal in Pretoria opgeneem word om weer sielkundige waarneming te ondergaan.

ʼn Vorige psigiatriese evaluering het bevind Zinde is geskik om vir die moord op sy ma verhoor te word en in staat om die hofverrigtinge te verstaan. Die verslag het genoem hy het nie aan enige geestesversteurings gely toe hy na bewering sy ma vermoor het nie. Die verdediging betwis hierdie psigiatriese verslag.

Landdros Moses Maswanganyi het Zinde se borgtog teruggetrek. Zinde bly in aanhouding. Die saak is tot 24 Januarie uitgestel wanneer hy in die Brits-streekshof moet verskyn waar ʼn aansoek ingedien gaan word om hom weer in Weskoppies te laat opneem.

Zinde word daarvan beskuldig dat hy sy ma by hul huis in die Pecanwood-landgoed by Hartbeespoortdam in Noordwes vermoor het. Hope se liggaam is op 11 Junie in die kattebak van haar motor gevind. Sy is vermoedelik reeds dae tevore vermoor. Sy was ʼn voormalige raadslid van die SAUK en sedert 1991 ʼn joernalis by die openbare uitsaaier.

Zinde moet op 29 Desember weer in die Vereeniging-landdroshof verskyn in verband met die aanrandingsaak.

Lees die vorige berigte oor die Pecanwood-moord op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

WitBlits ·

VRA EK OOK!!!
Duidelik weer dubbele standaarde deur die hof omdat iemand wat van aandadigheid tot moord (Poppie se ma) borg geweier word, maar ‘n hierdie beweerde moordenaar het borg gekry en ek wonder wat se rol velkleur speel in die hof se besluite.

Elsie ·

Straf hom en kry klaar. Waarom moet hy nou weer Weskoppies toe gaan? As hy vir die eerste klag nie mal was nie wasrom sal hy dan nou wees? Rek als net onnodig uit en dit kos die belastingbetaler

Speedguard ·

Sover my kennis strek verbeur jy jou borg gelde indien jy die voorwaardes verbreek of word dit dan nou terug betaal deur die staat!?

Sêmaarnet ·

Beteken dit nie dat jy in hegtenis geneem moet word met die éérste verbreking van borgvoorwaardes nie??? Die knaap het blykbaar sedert 20 September nie daagliks aangemeld nie!!

miv ·

hierdie outjie soek dwelmgeld, hou hom agter tralies, anders gaan hy sy pa ook vermoor.

Belinda ·

Lopende tydbom hierdie…………………..sluit hom verewig toe asb!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.