Pecanwood-moord: Seun val glo pa ook aan

Hope Zinde saam met haar seun Mark. Foto: Facebook

Hope Zinde saam met haar seun Mark. Foto: Facebook

Mark Zinde, die seun wat teregstaan op die moord van sy ma, Hope Zinde (50), is op ʼn onverwante aanklag in hegtenis geneem nadat hy glo ook sy pa aangeval het.

Zinde het Dinsdag vlugtig in die Brits-landdroshof verskyn in verband met die moord op Hope. Hope se liggaam is op 11 Junie in die kattebak van haar motor by haar huis in die Pecanwood-landgoed by Hartbeespoortdam gevind. Sy is vermoedelik reeds dae vantevore vermoor.

Zinde is kort ná die moord in hegtenis geneem en op 20 September op borgtog van R10 000 vrygelaat. Die staat het egter Dinsdag aangedui dat hulle die hof sal versoek om Zinde se borgtog terug te trek, aangesien hy vroeër vandeesmaand op ʼn ander aanklag in hegtenis geneem is.

Zinde het glo sy pa, dr. Lebohang Manoto, by sy huis in Walkerville in die suide van Johannesburg aangeval. Manoto, wat ingestem het dat Zinde by hom bly nadat hy op borgtog vrygelaat is, het ʼn aanrandingsklag teen sy seun by die De Deur-polisiestasie aanhangig gemaak. Die besonderhede rakende die beweerde aanranding was nie onmiddellik bekend nie.

Zinde sal na verwagting op 28 November in die Vereeniging-landdroshof verskyn in verband met die aanrandingsaanklag.

Die hof het Dinsdag die moordsaak tot 19 Desember uitgestel.

Lees alle vorige berigte oor Hope Zinde op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

m ·

Klink of die seun n groot probleem het. So mens moet nie eers borg gekry het nie..

Magda ·

En hy was vir waarneming in weskoppies en hulle het verklaar dat hy geskik is om verhoor te word. Dis goed dat sy pa ‘n saak geopen het teen hom. Hierdie kind moes nooit borg gekry het nie. Ek wonder wat sou gebeur het as hy sy pa baie ernstig aangerand het.

Jakes ·

Sjoe, die mannetjie moet nou rerig erens gebêre word. Pleks hy val net homself goed aan. Maar dit sal dalk skending sy mensereg wees?

Henda ·

As die bewyse so duidelik is dat hy sy ma vermoor het moes hy glad nie eers ‘n keuse gehad het om borgtog te kry of nie. Hoeveel verhoorafwagtendes pleeg weer ‘n misdaad terwyl hulle wag om verhoor te word. Sluit hom toe en gooi die sleutel weg. Hoekom is daar nie meer tronke wat selfonderhoudend is en hulle gevangenisse laat werk vir hulle kos ens. nie of is ek net onkundig. Ledigheid is die duiwel se oorkussing!!!

Maak stem dik ·

Een ding is duidelik. Hy het geen dissipline gekry nie. Dit is hoekom die jong mense doen wat hulle wil. Alles wil mos met sielkunde reg gemaak of benader word. ‘n Goeie pakslae op sy tyd het geen skade gedoen nie.

Doodstraf asb MRK ·

Doodstraf asb MRK, dit kan mos nie reg wees dat ‘n kind die reg het om sy ouers te vermoor en aan te rand nie! Dit is julle skuld dat daar al meer sulke gevalle opduik, kyk of jy so iets in Botswana sien, hul word respek op die regte manier geleer en as jy oortree is dit doodstraf, so jy doen dit eenvoudig nie, hoe maklik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.