Pecanwood-moord: Seun wéér bevoeg verklaar

Mark Zinde in die hof (Foto: Brenda Masilela/ANA)

Die Weskoppies- psigiatriese hospitaal het vir ʼn tweede keer Mark Zinde, wat daarvan beskuldig word dat hy sy ma vermoor het, bevoeg verklaar om verhoor te word.

Hy was drie maande lank by dié instansie vir waarneming.

Zinde het Maandag vlugtig in die Pretoriase hoggeregshof verskyn op aanklag van die moord op sy ma, die televisiepersoonlikheid Hope Zinde.

Sy regsverteenwoordiger, Francois Joubert, het gesê hulle is nie tevrede met die verslag nie en hulle het die hof versoek dat ʼn onafhanklike psigiater Zinde by die hospitaal-eenheid van die Kgosi Mampuru II-gevangenis, waar hy aangehou word, moet ondersoek.

Zinde staan tereg op aanklag van moord, besit van dwelmmiddels, aanranding en poging tot moord. Die 24-jarige word daarvan beskuldig dat hy sy 50-jarige ma in Junie 2016 vermoor het. Hope is ʼn voormalige raadslid van die SAUK, joernalis en televisie-aanbieder.

Zinde is in September vrygelaat op borgtog van R10 000 maar is weer in November 2016 in hegtenis geneem nadat hy glo sy pa, dr. Lebohang Manoto, by sy huis in Walkerville, suid van Johannesburg, aangeval het. Die staat het hom in hegtenis geneem op aanklag van aanranding met die doel om ernstige liggaamlike beserings aan te rig en poging tot moord.

Die staat voer aan hy het sy ma by hul huis in Pecanwood Estate by Hartbeespoortdam naby Brits, vermoor. Haar liggaam is op 11 Junie in die kattebak van haar motor gevind. Hy is daarna na Weskoppies gestuur vir psigiatriese evaluering. Die aanvanklike ondersoek het bevind dat hy bevoeg is om verhoor te word en dat hy die hofverrigtinge sal kan volg en verstaan. Volgens die verslag het hy nie aan enige geestesversteuring gely toe hy na bewering sy ma vermoor het nie. Hy is weer opgeneem ná hy sy pa aangeval het.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het in Desember ingestem om die twee sake te sentraliseer.

Zinde se regspan en sy familie hou vol dat hy nie by sy volle verstand was toe hy sy ma na bewering vermoor het nie.

Die saak is uitgestel tot 14 Mei 2018.

Lees alle vorige berigte oor die Hope Zinde-saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SjN ·

Speel vir tyd saam met sy regspan, wat hul nie alles vir geld sal doen nie, hoop die bedorwe brokkie betaal self vir sy psigiatriese toetse, en ons lhoop waarheid seëvier.

S ·

””Zinde se familie hou vol dat hy nie by sy volle verstand was toe hy sy ma na bewering vermoor het nie””

Genade watter MOORDENAAR of GEWELDENAAR is by sy VOLLE verstand as hy MOOR of ROOF??????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.