Pecanwood-moord: Seun weer in hof oor ma se moord

Mark Zinde (Foto: ANA)

Mark Zinde, wat daarvan beskuldig word dat hy sy ma, die voormalige SAUK-raadslid Hope Zinde, vermoor het, sal na verwagting Vrydag weer in die Pretoriase hooggeregshof verskyn.

Die Weskoppies- psigiatriese hospitaal het op 30 Augustus versoek dat Zinde nog ʼn maand lank by hulle moet spandeer vir verdere waarneming. Sy prokureur, Francois Joubert, het in daardie stadium aan die hof gesê sy kliënt kan nie in die hof verskyn nie, omdat hy steeds by die hospitaal is.

Die staat voer aan Zinde het sy 50-jarige ma by hul huis in Pecanwood Estate, Hartbeespoortdam naby Brits, vermoor. Haar liggaam is op 11 Junie 2016 in die kattebak van haar motor gevind.

Zinde is kort daarna in hegtenis geneem en sy familie het daarop aangedring dat hy vir sielkundige waarneming moet gaan. Die hof het ingestem en hy is na Weskoppies-hospitaal gestuur.

Die aanvanklike verslag van die hospitaal het egter bevind dat die beskuldigde bevoeg is om verhoor te word en dat hy die hofverrigtinge sal kan verstaan. Die verslag het ook bevind die 23-jarige Zinde ly nie aan enige geestelike versteuring nie.

Zinde het al verskeie kere in die hof verskyn en is in September verlede jaar vrygelaat op R10 000 borgtog, maar hy is in November weer in hegtenis geneem toe hy glo sy pa, dr. Lebohang Manoto, by sy huis in Walkerville, suid van Johannesburg, aangerand het.

Hy staan tereg op aanklag van moord, die besit van dwelmmiddels, aanranding en poging tot moord.

Lees alle vorige berigte oor Hope Zinde op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ander Annie ·

Sy Ma was ‘n wonderlike vrou. Hoe hartseer dat hy haar dood gemaak het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.