Pecanwood-moord: Seun weer in Weskoppies

Hope Zinde saam met haar seun Mark. Foto: Facebook

Mark Zinde se verhoor in die Pretoriase hooggeregshof is Dinsdag weer uitgestel omdat hy tans in die Weskoppies- psigiatriese hospitaal is vir waarneming.

Hy is drie weke gelede weer in die hospitaal opgeneem vir ʼn maandlange sielkundige waarneming.

Zinde staan tereg op aanklagte van moord, die besit van dwelmmiddels, aanranding en poging tot moord.

Die 23-jarige Zinde word daarvan beskuldig dat hy sy 50-jarige ma, Hope Zinde, in Junie verlede jaar vermoor het. Hope was ʼn voormalige raadslid van die SAUK, joernalis en nuusleser.

Zinde is in September op borgtog van R10 000 vrygelaat, maar is weer in November 2016 in hegtenis geneem nadat hy glo sy pa, dr. Lebohang Manoto, by sy huis in Walkerville, Johannesburg, met ʼn glas aangeval het. Die staat het hom aangekla van aanranding met die doel om ernstig te beseer en poging tot moord. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het ingestem om die twee sake saam te voeg.

Die staat voer aan Zinde het sy ma by hul huis op die Pecanwood-landgoed by Hartbeespoortdam vermoor. Haar liggaam is op 11 Junie 2016 in die kattebak van haar motor gevind.

Zinde is ná sy inhegtenisneming verwys na die Weskoppies-hospitaal vir psigiatriese waarneming. Die aanvanklike assessering het daarop gedui dat hy geskik is om verhoor te word en dat hy die hofverrigtinge kan begryp. Die verslag het bepaal dat hy nie aan enige geestesversteurings gely het ten tyde van die moord op Hope nie.

Die familie hou egter vol Zinde was nie by sy volle positiewe toe hy Hope glo vermoor het nie.

Staatsaanklaer Andre Wilsenach het gesê Zinde word weer na die hospitaal terugverwys gegrond op die bykomende aanklagte van aanranding en poging tot moord.

ʼn Datum vir sy volgende verskyning sal bepaal word wanneer Zinde se waarnemingsverslag afgehandel is.

Lees alle vorige berigte oor Hope Zinde op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.