Pecanwood-moord: Tweede psigiatriese waarneming gevra

Hope Zinde saam met haar seun Mark. Foto: Facebook

Hope Zinde saam met haar seun Mark. Foto: Facebook

Die aanrandingsaak teen Mark Zinde, die seun wat ook teregstaan vir die moord op sy ma, Hope Zinde (50), is Donderdag in die Vereeniging-landdroshof uitgestel.

Zinde staan tereg op ʼn aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer, nadat hy na bewering sy pa, dr Lebohang Mohale Manoto, aangeval het. Hy word in ʼn ander hof verhoor vir die beweerde moord op sy ma in Junie vanjaar.

Hy het sy pa na bewering op 6 November met ʼn glas aangeval. Manoto was besig om ʼn koerant te lees by sy huis in Walkerville, suid van Johannesburg, toe sy seun hom glo met ʼn glas in sy gesig geslaan het.

Zinde se regsverteenwoordiger het die hof Donderdag versoek om Zinde vir psigiatriese waarneming te stuur. Adv. Francois Joubert het die hof gevra om die saak tot 29 Desember uit te stel, omdat hulle op ʼn verwysingsbrief van Zinde se dokter wag.

Gedurende Zinde se vorige hofverskyning het Joubert gesê hy gaan sy borgtogaansoek laat vaar, aangesien hulle hul eie psigiatriese verslag aan die hof beskikbaar wil stel. Zinde is in September, tydens die moordsaak, op borgtog van R10 000 vrygelaat, maar is weer aangehou nadat hy vir die beweerde aanranding in hegtenis geneem is.

ʼn Vorige psigiatriese evaluasie het bevind Zinde is geskik om vir die moord op sy ma verhoor te word en in staat om die hofverrigtinge te verstaan. Die verslag het genoem hy het nie aan enige geestesversteurings gely toe hy na bewering sy ma vermoor het nie. Die verdediging betwis hierdie psigiatriese verslag.

Zinde word daarvan beskuldig dat hy sy ma by hul huis in die Pecanwood-landgoed by Hartbeespoortdam vermoor het. Hope se liggaam is op 11 Junie in die kattebak van haar motor gevind. Sy is vermoedelik reeds dae tevore vermoor.

Zinde sal op 29 Desember weer in die Vereeniging-landdroshof verskyn in verband met die aanrandingsaak. Hy sal op 19 Desember weer in die Brits-landdroshof verskyn in verband met die aanklag van moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.