Pecanwood-moord: Verhoor begin vandag

Mark Warona Zinde tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: ANA

Die verhoor van Mark Warona Zinde (23), wat verdink word van die moord op sy ma, die televisiepersoonlikheid Hope Zinde (50), sal vandag in die hooggeregshof in Pretoria begin.

Die staat beweer Zinde het sy ma in Junie verlede jaar by hul huis in die Pecanwood-landgoed by  Hartbeespoortdam in Noordwes vermoor. Hope se liggaam is op 11 Junie in die kattebak van haar motor gevind. Sy is vermoedelik reeds dae tevore vermoor. Sy was ʼn voormalige raadslid van die SAUK en sedert 1991 ʼn joernalis by die openbare uitsaaier.

Zinde staan tereg op ʼn aanklag van moord en dwelmbesit.

Hy is voorheen vir psigiatriese waarneming na die Weskoppies-psigiatriese hospitaal in Pretoria gestuur, waar bevind is Zinde is geskik om verhoor te word en in staat om die hofverrigtinge te verstaan. Daar is ook bevind Zinde het nie aan enige geestesversteuring gely toe hy na bewering sy ma vermoor het nie.

Die familie hou egter vol Zinde was nie by sy volle positiewe toe hy Hope glo vermoor het nie.

Zinde word ook apart aangekla van aanranding met die doel om ernstig te beseer, nadat hy in November verlede jaar na bewering sy pa by sy huis in Walkerville aangerand het. Hy het glo sy pa, dr. Lebohang Mohale Manoto, met ʼn glas in sy gesig geslaan.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het ingestem om die twee sake saam te voeg.

Lees die vorige berigte oor die Pecanwood-moord op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

jaco ·

Ek wonder hoe hierdie saak gaan uitdraai. Volgens ons regering daal misdaadvlakke nie en die swaarste strawwe vir moord en sogenaamde “rassisme” volg net as dit wit op swart is. So ek sal graag wil sien hoe word swart op swart misdaad (nogal moord) deur ons regstelsel hanteer.

CHRISTA ·

Dit lyk my dis nou ‘n nuwe mode in Suid-Afrika vir kinders om hulle ouers te vermoor!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.