Uitspraak is Vrydag in die Wes-Kaapse hooggeregshof gelewer in die appèl van die direktoraat van openbare vervolging wat ʼn swaarder straf vir die pedofiel Andries Petrus Retief (37) versoek het.
Landdros Mandy van Leeve het Retief, ʼn siviele ingenieur, in Augustus 2015 in die hof vir seksuele misdrywe in Parow tot agt jaar tronkstraf gevonnis op die voorwaarde dat hy nie binne vyf jaar weer dieselfde oortredings begaan nie. Die vonnis is egter heeltemal opgeskort, wat beteken het dat hy nie tronkstraf moes uitdien nie.
Dit volg nadat Retief skuldig gepleit het op verskeie aanklagte rakende die vervaardiging en besit van kinderpornografie sowel as seksuele aanranding.
Retief, ʼn eerste oortreder, het toe skuldig gepleit op 2 130 aanklagte. Hy het jong kinders na ʼn plaas naby Durbanville gelok met die oog daarop om pornografiese foto’s en video’s van hulle te neem. Van sy slagoffers sluit in ʼn sesjarige, agtjarige en negejarige kind wat almal seksueel aangerand is terwyl hulle geslaap het.
Van Leeve het wesenlike redes gevind om Retief ʼn minimum vonnis te gee. Die landdros het gesê Retief se inhegtenisneming het gelei tot sy besef dat hy ernstige emosionele probleme gehad het en dat hy ʼn dringende behoefte aan langdurige psigoterapie het. Sy het gesê hy het homself onmiddellik vir terapie beskikbaar gemaak.
Die Wes-Kaapse direktoraat van openbare vervolging het egter teen sy “skokkend onvanpaste ligte vonnis” geappelleer.
Regter Le Grange het Vrydag die direktoraat van openbare vervolging se appèl toegestaan. Le Grange het Retief tot 10 jaar tronkstraf gevonnis waarvan twee jaar vir vyf jaar opgeskort is. Le Grange het Retief ook tot ʼn verdere agt jaar tronkstraf gevonnis op van die ander aanklagte. Hy het egter gelas dat die vonnisse gelyklopend uitgedien moet word. Retief moet dus effektief agt jaar tronkstraf uitdien.
Sy naam moet ook op die lys van seksuele oortreders geplaas word.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
39 Kommentare
Siek ding! Die woord “pedofiel” of “verkragter” moet op so ‘n persoon se voorkop tattoo word en hy moet so rondloop sodat almal kan sien wat presies hy is.
Ek verstaan niealdag die regstelsel nie. Hierdie man word feitlik vrygespreek en die landros hewt simpatie met hom. Wat van die slagoffers.
Soveel sake teen hom en kry maar 10 jaar sal hom lewenslank gee en hom in die tronk los sodat hulle hom goed kan bykom
Skokkend
2130 Aanklagtes = 10 jaar waarvan 2 vir 5 jaar opgeskort is! Goeie genugtig ~ dis belaglik verby!