Pedofiel-pa gevonnis: ‘Hy kry wat hy verdien’

hof-hamer

Argieffoto.

Die pa van een van die slagoffers van die berugte Sasolburg-pedofiel het Donderdag gesê die gesin is dankbaar dat ʼn lang en moeilike pad vandag tot ʼn einde gekom het, nadat die man in die hooggeregshof in Bloemfontein gevonnis is.

Die 42-jarige man, wie se naam nie bekendgemaak mag word nie, is in Augustus vanjaar skuldig bevind op 933 seksuele aanklagte, wat onder meer verkragting, seksuele aanranding en die vervaardiging en verspreiding van kinderpornografie insluit.

Regter Jake Moloi het die man vandag tot 36 keer lewenslange tronkstraf gevonnis op die 36 aanklagte van verkragting. Die man is ook tot tien jaar tronkstraf gevonnis vir seksuele omgang met ʼn minderjarige, vyf jaar tronkstraf vir elke aanklag van seksuele aanranding, 15 jaar tronkstraf vir 542 aanklagte van die besit van kinderpornografie, 15 jaar tronkstraf vir 108 aanklagte van die verspreiding van kinderpornografie en 20 jaar tronkstraf vir 228 aanklagte van die vervaardiging van kinderpornografie.

Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Phaladi Shuping, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê altesaam 200 000 foto’s van kinders en verskeie video’s van kinders wat verkrag word, is in die man se besit gevind.

Tydens die verhoor het dit aan die lig gekom dat die man sy sewejarige dogter vanaf Julie 2009 tot Maart 2012 13 keer verkrag het. Vanaf Augustus 2011 tot Mei 2014 het hy ook sy ander dogter verkrag. Sy was ses jaar oud toe die verkragting begin het. Hy het ook van sy dogters se maats verkrag en seksueel aangerand wanneer hulle by sy dogters oorgeslaap het. Hierdie slagoffers was tussen 5 en 8 jaar oud.

Een van hierdie maats se pa, wie se naam weerhou word om die identiteit van sy dogter te beskerm, het ná die vonnisoplegging aan Maroela Media gesê hy is dankbaar die saak is afgesluit. “Kan jy regtig ʼn vonnis koppel aan dit wat hy gedoen het? Nee. Maar geregtigheid het sy gang gegaan en hy het gekry wat hy verdien. Dit is nou uiteindelik verby.”

Adv. Xolisile Khanyile, die direkteur van openbare vervolging in die provinsie, het die vonnis verwelkom. “Ons hoop die vonnis dien as afskrikmiddel vir potensiële oortreders. Die NVG is baie tevrede met die vonnis. Geregtigheid het geskied. Dit is net jammer dat jong kinders so geskend moes word deur iemand wat hulle vertrou het,” het Khanyile gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Nella ·

Die vonnis gaan nie naastenby die emosionele skade regverdig nie.

Manie ·

Daar loop baie sulke pedofiele vry rond in die land omdat die vroue wat die slagoffers was nooit tevoorskyn wil kom. Pasop by wie julle kinders speel en oornag

Wonder ·

Ongelukkig is die skade reeds gedoen wanneer die ouers bewus word van die situasie en is daar groot selfverwyt en uitgawes om so ‘n kind te help. Kinders van 6,7 en 8 jaar en selfs ouer kan hulself nooit teen ouer mense beskerm nie daarom het hul ouers om dit te doen. Jou kind is die veiligste onder jou eie dak met slaaptyd. Wanneer ouers ‘n aftydjie reel en hul kinders laat uitslaap loop hulle kinders die risiko. Is dit die moeite werd?

Pieta@ Bethlehem ·

Wys jou hoe ons al verblind is met ‘tevrede met die straf opgele deur die hof’. LEES WEER DIE BERIG EN LET OP DIE SIN WAT ALLEEN IN N PARAGRAAF GEPLAAS IS. Dit is die ware vonnis. Sal n regsgeleerde nie ASB vir die mense se wat dit in jare beteken in SA se regsterme nie? Skande!

Ek ·

Hy het nie gekry wat hy verdien nie….. Hy verdien baie baie baie erger as net tronkstraf!!!! Hy moet in die poorte van die hel in gegooi word!!!

Spikkel ·

Slegs doodstraf sal as afskrikking dien. Hy en al.die ander verdien niks minder nie. Hulle mors net belastingbetalers se geld.

Pieksie ·

En waar was sy vrou toe hy dit gedoen het? Moes sy dalk na die kids gekyk het ni?

Antiporn-aktivis ·

Alles begin by pornografie. Mag elkeen wat betrokke is by vervaardiging en verspreiding daarvan, hel toe gaan! Mevrou, kyk n bietjie wat gaan op jou man se foon aan……

Chantal ·

Ons enigste troos is dat hy sy doods vonnis by ons Vader gaan kry, my hart breek vir elke kind wat so stukkend van binne gelaat is, onverdiend!

Denise ·

Nou wil ek net weet het die ma nie agter gekom daar is fout met die dogtertjie nie sy was net sewe ek is geskok en wat van die maatjies se ouers ek vra maar net !!! Dit is skokkend!!!

hi ·

Die ma en pa was geskei. En omstandighede het gemaak dat die kinders by die pa bly wat weer by sy ouers gebly het.

Marisa ·

Since when is 25 in die tronk genoeg vir wat hy gedoen het? Samelopende vonnis. En dis afskrik middel???? Asb!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.