Pedrie Wannenburg gegroet

Die Wannenburgs. (Foto: Facebook)

Die voormalige Springbokrugbyspeler Pedrie Wannenburg was ’n gesinsman wat sy vrou en kinders innig lief gehad het.

“Hy was een van die mees gesinsgeoriënteerde mans wat ek al ontmoet het,” het past. Richard Heard van die Inspire Church in Houston, Texas, Woensdagaand (Suid-Afrikaanse tyd) tydens ’n gedenkdiens vir Wannenburg gesê.

Die voormalige Blou Bul‑losvoorspeler is verlede maand in ’n motorongeluk in dié Amerikaanse deelstaat oorlede. Hy was 41 jaar oud.

“Isabelle en Francois, julle pa het julle met sy hele wese lief gehad en in julle geglo,” het Heard tydens die gedenkdiens gesê.

“Daar is iets van hom in julle albei. Hy was ’n wonderlike man. Onthou dit. Elkeen van julle is julle eie mens en sal grootword om julle eie drome na te jaag. Maar weet dat hy altyd die heel beste vir julle wou gehad het.

“Hy is nou in die hemel tussen ’n groot wolk van getuies wat oor julle waak. Julle is nie alleen nie.”

Die agtjarige Francois wat ná die ongeluk in ’n ernstige toestand in die hospitaal opgeneem is, is intussen uit die hospitaal ontslaan en kon die gedenkdiens saam met sy ma, Evette, en ousus Isabelle bywoon.

Familielede, onder wie Wannenburg se ouers, broer en suster, het vanuit Suid-Afrika na die VSA gevlieg om die gedenkdiens by te woon. ’n Emosionele Callie Wannenburg het sy broer “Peet” as ’n “sagte reus” onthou wat sy gesin ten alle koste beskerm het.

Wannenburg is op 22 April dood toe ’n tiener (16) vir die polisie in Harris County weggejaag en teen die Wannenburgs se gesinsmotor gebots het. Die tiener is sedertdien van strafbare manslag aangekla.

Callie het vroeër aan Maroela Media gesê die familie koester nie kwade gevoelens teenoor die tiener wat daardie dag agter die stuur was nie.

“Ek voel jammer vir die kind. Hy het ’n verkeerde besluit geneem en nou gaan hy vir die res van sy lewe met daardie gevolge moet sit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
marius

Bitter jammer .

Miena

Sterkte vir die gesin en familie.

Toy

Sjoe dit is bitter hartseer, baie sterkte julle.

Daleen

Hoe WONDERLIK vir sy familie om deel van so goeie man se lewe te kon wees. Hoe HARTSEER dat hy so gou van hulle weggevat is. RIV Petrie en aan jou familie baie sterkte en koester die goeie herinneringe.

Lillian

Skokkende nuus vir ons in SA. Rus in Vrede Pedrie. Sterkte aan sy vroutjie, kiddies, ouers, familie en vriende