Pedrie Wannenburg sterf in motorongeluk

Pedrie Wannenburg (Foto: Facebook)

Die voormalige Springbokrugbyspeler Pedrie Wannenburg is Vrydag in ’n motorongeluk in die Amerikaanse deelstaat Texas dood.

Wannenburg, sy vrou, Evette, en hul twee jong kinders was saam in die motor ten tyde van die ongeluk. Die egpaar se seun is ernstig beseer. Wannenburg en sy seun is ná die ongeluk hospitaal toe gevlieg waar Wannenburg later dood verklaar is.

Volgens die Amerikaanse owerhede is die ongeluk veroorsaak deur ’n tiener, vermoedelik 16 jaar oud, wat vir die polisie in Harris County weggejaag het.

Die gewese SA o.19-, Lions- en Goue Leeusbreier Eugene (Loffie) Eloff het dié hartseer nuus van Wannenburg se afsterwe Saterdagoggend aan Maroela Media bevestig.

“Ek het so twee uur gelede die oproep ontvang.”

Eloff het ’n paar jaar gelede saam met Wannenburg die Austin Huns in Texas afgerig voordat Wannenburg later by die rugbyklub Austin Elite se voorspelerafrigter aangesluit het.

“Pedrie was nie net ’n wonderlike afrigter nie. Hy was ’n wonderlike pa, vriend en mens. Ek voel ongelooflik jammer vir sy vrou en kinders in hierdie tyd,” het Eloff gesê.

Wannenburg het lank as losvoorspeler vir die Blou Bulle uitgedraf en 20 toetse vir die Springbokke gespeel voor sy aftrede in 2017.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.