Peiling bevind daling in DA-steun

Argieffoto: DA

Die marknavorsingsgroep Ipsos Markinor het hul jongste meningspeiling bekend gemaak – en dit lyk nie goed vir die DA nie.

Volgens dié peiling geniet die ANC tans 61% steun (af van 62% in 2014), die DA 14% (af van 22% in 2014), die EFF 9% (op van 6% in 2014) en die IVP 2% (dieselfde as in 2014).

Hoewel die aantal mense wat by die peiling betrek is – meer as 3 500 Suid-Afrikaners – genoeg is om as ’n verteenwoordigende steekproef te kwalifiseer, strook dit nie met tussenverkiesingsuitslae nie en stel dit Ipsos Markinor bloot aan kritiek dat hulle nie uit hul foute van die verlede leer nie.

In die verlede het die maatskappy nog deurgaans die DA en die IVP se steun onderskat, en dit lyk asof hulle dit met dieselfde metodiek waarskynlik weer gedoen het.

In die verlede is soortgelyke peilings deur dieselfde mense telkens gekritiseer op metodiese gronde, veral omdat die deelnemers nie uitgevra is na hul stempatrone van die verlede nie.

Nog kritiek is dat daar geen aantoonbare pogings was om die foute van die verlede se peilings in ag te neem in die metodiek van die hede of toekoms nie, omdat:

– die impak van die meerderheidsvoorkeur in ’n spesifieke gebied op die individu se voorkeur (en dus die gevolge van groepdruk) nie verreken word nie;

– daar soveel tyd verloop tussen die tydperk waarin die peiling gedoen word en die tyd wanneer dit aangekondig word (in hierdie geval soveel as drie maande) en;

– daar in die verlede ’n neiging bestaan het om die politieke vrae te voeg by vrae oor byvoorbeeld voorkeure vir verbruikersprodukte, wat dikwels ’n ander ingesteldheid as politieke keuses verteenwoordig.

In die mees onlangse peiling se geval hou die bevindings nie steek met kiesersvoorkeur soos weerspieël in tussenverkiesings nie. Terwyl die DA se steun wankel weens gebrekkige diversiteitsbestuur, gevolglike interne struwelinge en beleidsonsekerheid, is daar geen aanduiding dat die party ’n derde van sy kiesers kwyt is nie.

Die ANC bereik ook nie in tussenverkiesings eers naastenby sy steunvlakke van 2014 nie, terwyl die IVP reeds die afgelope drie jaar sterk groei ondervind, onder meer danksy die wegval van steun vir die NFP en ontevredenheid in Zoeloegeledere oor die opsy skuif van oudpres. Jacob Zuma deur die ANC.

Die een party wie se steunvlakke wel in tussenverkiesings weerspieël word, is die EFF.

Die DA se verkiesingshoof, Jonathan Moakes, het in reaksie op die bevindings gesê Ipsos Markinor het nog altyd DA-steun vêr onderskat, soos hul peilings in 2009 en 2014 duidelik toon.

Die DA se eie peilings toon onder meer hulle sal die bewind in die Wes-Kaap behou en dat hul steun in Gauteng groei, aldus Moakes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

44 Kommentare

Br ·

Mou hoe nou, die DA het sekerlik nie gedink daar gaan net blindelings weer vir hulle gestem word nie. Hulle is verseker ANC light, die leier is onbetroubaar. Nee dankie ek stem nooit weer vir hulle nie, daar wag n groot skok op hulle die stemme gaan heelwat minder wees.

Poot ·

ASKIES TOG????
3500 Suid Afrikaners uit 44.8 mil is genoeg om akurate statistiek vry te stel?
GENADE!!!!!! Dis geen wonder ons land is in so toestand nie. Dis maar 0.000078% van die bevolking.
Red ‘n nasie!!

Gert ·

Mense begin uiteindelik deur die DA sien. Afrikaners stem vir hulle, dan doen hulle NIKS vir daardie afrikaners nie, spreek hulle eerder uit ten gunste van BEE en regstellende aksie wat absoluut afrikaners se toekoms verwoes.

Botterblom ·

Die politieke leiers is vir my van swakker gehalte as wat dit hoort. Hulle kommer nie oor 1 kieser wat hul verloor nie. Ek sou enige iets insit om 1 te wen, maar van hulle sit enige iets in om 1 te verloor….. En as jy iets vra waaroor jy onseker is kry jy geen antwoord nie, of word afgejak. Baie mense gaan wel DA stem, maar dit nie deur die DA leiers se toedoen nie, net omdat daar nie werklik ‘n ander party is as jy na die ANC en EFF kyk nie. Die ander klein partye sou ek se moet hulle skaar by die DA, net om balans erens te kry. Die DA is hulle eie ondergang, want niemand weet werklik waar hulle nou eintlik staan nie. Hulle maak onkonsekwente uitlatings op verskillende goed. Soos ek sê, vir wie anders as mens wil hê jou stem moet darem ewewig bring.

Ontnugter ·

Ek gee regtig nie om hoe groot of klein n party is nie, as jy egter dieselfde beleide as die ANC het en mense se stemme net misbruik, kan jy verseker weet ek stem nie vir jou nie. Nooit weer DA vir my nie. En ek het VELE ander keuses. Hierdie snert van daar is nie ander opsies nie val ek ook nie meer nie. Ons kiesstelsel is van so n aard dat elke stem tel, ongeag vir wie jy stem.

Loem ·

Hoe kan jy dan DA stem as jy self se hul weet nie waarvoor hul staan nie. Mens stem vir waardes, al is die party hoe klein, hul help darem om die Da in sommige plekke in beheer te hou en sodoende ook n se het in besluitneming.

Inus Bester ·

‘n Mens het mos darem beginsels! Hoe kan ‘n persoon met konserwatiewe denke ooit vir die liberale DA stem? ALLES waarvoor die DA staan bots 100% met konserwatisme! Moet jy nou jou beginsels (en Christelike geloof) oorboord gooi net om die DA te versterk – wat dan uiteindelik sy meer mag teen dieselfde wit persoon gebruik! Jy’s mos lekker laf Botterblom! Stem eerder vir die VF+ om hulle sterker te maak en ‘n groter stem in die parlement te gee.

Karolis ·

Ek weet van klomp mense wat vir die da vooraf gewaarsku het dat hulle stemme gaan verloor.

Cobus ·

Dit is nie of jou stem getel word wat saak maak nie dit is die impak way daai stem. Glo ook dat die kleiner party met naasteby die selfde beginsels moet saam staan Anders geen hoop

Marie Visser ·

Statistiek is lagwekkend en pateties. Media wil net DA skade berokken.

Joon ·

Ai mense die jaar het nou net begin, met Baie gebed versoeke, waar is julle geloof

Johanna Botha ·

Musi is as leier vir my te lig in die broek iemand is nodig met meer waardigheid …wel iets kort !

Johan ·

Nee dankie DA. Julle het goed begin. Maar DA doen niks v blankes nie.

Frik ·

Hoe dwaas moet jy wees om te glo dat stem en die DA redding gaan bied aan hierdie godverlate land! Jul maai net wat jul saai.

Ontnugter ·

Ek luister gereeld na hierdie Jan-Jan Joubert op Radio PTA, en ek dink hy is subjektief en ooglopend ten gunste van die DA. Ek het egter agtergekom ek moet my eie ondervinding en realiteite op grondvlak gebruik in my besluit oor om vir wie te stem, en na my ondervinding in PTA, is die DA uit by die die deur vir my. Ek stem nou VF+. Pieter Groenewald is nie een wat jy met kaal hande aanvat nie en na my mening n baie beter en sterker leier as Mmusi. Ek was ook nie deel van die navorsing steekproef nie, maar die DA sien my nie weer – in daai opsig dink ek die navorsing is reg.

Pop ·

So stem vir wie julle wil. Maar moenie kla as die DA gebiede onder die ANC val nie. Dalk is dit wat al julle anti DA verdien. Dan oor 4 jr praat ons weer. As alles in die hele land in duie gestort het. Want al wat gaan gebeur as die DA steun verloor, is dat die Eff en ANC sterker word.

Gert ·

Pop, as iemand nie vir die DA stem nie en ook nie vir die ANC nie maar wel vir ‘n ander party, bly die ANC se stempersentasie presies dieselfde as wanneer daardie persoon vir die DA gestem het, en in elk geval is byna orals waar die ANC nie regeer nie, koalisieregerings. Dus: Stem eerder vir ‘n party wat jou belange bevorder, dit versterk die ANC niks, verswak die DA en bevoordeel ander partye wat beter as die ANC/DA blok is.

Loem ·

Weet jy wie hou sommige stads rade van die DA in beheer, die kleiner partytjie,Pretoria,johannesburg en vele ander , so as hul ontrek, kom ons kyk na 4 jaar dan moet jy nie kla nie. OOgies oop en ore op die grond !!

Lola ·

Nee Pop, kleiner partye sal meer steun he en koalisies sal moet gevorm word en dan kan daar na ons begin kyk word.

Kobus ·

Tannie Pat en die VF+ koalisie sal die DA in die wes Kaap uitstof, dalk nog die ANC ook. Moet nooit `n party afskruif net omdat hulle klein is. Die DA was groot en kyk hoe het hulle geval.

Poot ·

@POPS
Die land het alreeds in duie gestort. Waar das jy die laaste 23jaar?

Petra ·

Wat nou gebeur is net hul skuld. Niemand in ons gesin sal ooit weer vir hulle stem nie

SP ·

Mense. Hier is jul kaans om vir ‘n politiekeleier te kan stem met ‘n PHD, nie vir een met ‘n afgewaterde MBA nie. :)

Marietjie Blignaut ·

DA wil alles vir almal wees en is op die ou end NIKS vir niemand. Minderheidsregte word vertrap en hul steun Regstellende Aksie en nog baie meer wat vir my as blanke net nadeel inhou. Beslis my stem verloor en ek stem eerder vir dr Groenewald wat sy man kan staan. Hy is ‘n yster wat my waardes vooropstel. In ons proporsionele kiesstelsel word elke stem “gehoor” en GEEN stem gaan verlore nie. VF PLUS bo!

kolla ·

Dienste is goed in die Wes-Kaap waar ek bly. Ek stem weer DA om dit so te hou.

Kobus ·

Die DA gaan die Wes-Kaap verloor, dit is `n mors van `n stem om vir hulle te stem. Stem eerder vir Taanie Pat of die VF+, hulle het `n groter kans om iets te doen.

Die DA gaan saam met die ANC staan of dan nog saam smelt, wees gewaarsku. Birds of a feather flock together.

Poot ·

@kolla
Duidelik was jy nie onlangs in Gauteng nie. Die diens is swakker as toe die ANC die metro bestuur het. En die raadslede is USELESS.

sweiz ·

Ek stem nooit weer DA nie sal my stem vir die VF+ gee hulle kan dan n koalisie vorm met die DA as hulle wil.

Andre ·

Die DA het hulle self in die voet geskiet, Mmusi het die DA in die grond in bestuur want hy gee nie om oor sy wit en kluerling stemme nie. Daai syfer van die DA sal bly wees om beter as 10% te haal volgende jaar.

Ek sal graag die marknavorsing in die VF+ se groei sien, hulle gaan nog die DA klop volgende jaar. Die ANC gaan sekere streke terug wen, maar met Ramaposer kan mens dit verwag. Wag tot Zuma weg breek van die ANC ek kyk wat dan gebeur. Dit kan die einde van die ANC beheer in 2023 bring.

Joe ·

Rassistiese DA en “leier” Musi het enkelhands my steun weggegooi. DA is die ANC in blou. Cheers.

CB ·

Kyk as ek so lees is ons afrikaners duidelik verdeeld soos altyd. DA se leier het Christelike waardes en is akademies taamlik bevoeg. Die DA moet sekere besluite steun om die groter magdom van die land te wen. Die VF+ voel ek is n baie goeie stem vir ons Afrikaner volk se belange ja, maar net so kan die res van die nasie sien dat hulle meer na die Afrikaner se belange gaan omsien as die res van die land. Ek weet self nog nie waar om te stem nie ek weet net alby het sy positiewe en negatiewe punte. Ek leen egter meer na die DA want hulle is n party wat sy foute het ja maar die Christelike waardes wat Musi het is vir my gerusstellend. Ons moet saam staan wit, swart en bruin en saam stem vir wat reg is en waar almal se belange onder aandag gebring word.

Pieter ·

Die VF+ het meer Christelike waardes as die DA, dit kan ek jou belowe.

Gert ·

Die DA is NIE ‘n christelike party nie, is amptelik ‘n sekulêre party maw staan nie een godsdiens voor nie. Die VF+ is christelik.

Jorsh ·

Mmusi is BAIE vinnig vir n foto sessie in die publiek en om die “regte” woorde te sê, maar sy optrede wys baie van die man.

Harry ·

Almal wat vir die DA en linkser partye stem, ondersteun aborsies en is eintlik maar moordenaars. Ons hemelse vader slaap nie, maar is besig om die skape van die bokke te skei – watter een gaan jy wees?

Poot ·

@Harry
Sjoe ou Harry, dis darm maar wille aantygings wat jy maak. Sê sommer ook bietjie vir ons wat sê die Woord van God oor “oordeel”.

Harry ·

@Poot, die Woord volgens Openbaring 21:8 : “..ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars — hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel..”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.