Peiling: Hoeveel kiesers gaan môre stem?

Argieffoto: Phillip Bruwer

Hoewel dit moeilik is om te voorspel hoeveel kiesers môre na die stembusse sal opruk om hul kruisies te trek, meen die marknavorsingsfirma Ipsos dit is onwaarskynlik dat die lae stempersentasie en fenomeen van ANC-“wegbly-kiesers” soos in die plaaslike verkiesing in Augustus 2016 vanjaar herhaal sal word.

Ipsos sê in sy jongste peiling die samestelling van die verwagte aantal kiesers wat wel hul kruisies gaan trek, asook hoeveel stemme die verskillende partye sal trek, is ʼn ingewikkelde, analitiese proses.

“Nie net is daar verskillende kiesersopkoms-scenario’s op nasionale vlak nie, maar kiesers in verskillende provinsies het verskillende kiesersopkoms-gedrag – verskillende bevolkingsgroepe en verskillende ouderdomsgroepe tree ook verskillend op. Boonop is kiesers meer oortuig dat hulle sal stem vóór ʼn verkiesing as op stemdag,” sê Ipsos in ʼn verklaring.

Die navorsingsfirma sê ook dat verdeelde stemme in ag geneem moet word – sommige kiesers stem vir verskillende partye op hul nasionale en provinsiale stembriewe.

“As daar na vorige verkiesings gekyk word, is dit onrealisties om te verwag dat alle geregistreerde kiesers [môre] sal gaan stem. Dit is ʼn belangrike faktor aangesien die kiesersopkoms ʼn aansienlike invloed op die aantal stemme vir elke politieke party sal hê.”

Ipsos het daarom na deelnemers se antwoorde op twee peilingsvrae gekyk, naamlik deelnemers se behoefte om te stem en die waarskynlikheid dat hulle gaan stem.

Altesaam 35% van geregistreerde kiesers wat aan die peiling deelgeneem het, het aangedui hulle wil beslis gaan stem. Die meerderheid deelnemers (50%) het aangedui hulle wil gaan stem, 13% meen hulle wil nie gaan stem nie, en 2% het gesê hulle weet nie of hulle wil gaan stem nie.

Wanneer deelnemers se antwoorde volgens die drie grootste politieke partye verdeel word, het 39% van ANC-ondersteuners gesê hulle wil beslis gaan stem, vergeleke met 37% van DA-ondersteuners en 32% van EFF-ondersteuners wat beslis wil gaan stem.

Op die vraag “hoe waarskynlik is dit dat jy wel in die 2019- nasionale en provinsiale verkiesing sal gaan stem”, het 42% van deelnemers aangedui dit is baie waarskynlik. Die meeste deelnemers (45%) het aangedui dit is waarskynlik, 11% meen dit is onwaarskynlik en 2% het aangedui hulle weet nie.

Onder die ANC-ondersteuners het 48% aangedui dit is baie waarskynlik dat hulle sal gaan stem, terwyl 46% sê dit is waarskynlik. Net 5% van die ANC-ondersteuners het gesê dit is onwaarskynlik dat hulle sal gaan stem.

Onder die DA-ondersteuners het 45% aangedui dit is baie waarskynlik dat hulle hul kruisies sal gaan trek, 45% sê dit is waarskynlik en 9% meen dit is onwaarskynlik dat hulle ʼn stemlokaal sal besoek.

Altesaam 39% van EFF-ondersteuners het gesê dit is baie waarskynlik dat hulle sal stem, 48% het gemerk waarskynlik en 11% sê dit is onwaarskynlik.

“Meer as 80% van kiesers is van mening dat hulle wel op stemdag sal gaan stem. Hierdie getal is egter waarskynlik nie realisties nie, gegewe kiesersopkoms in die verlede. Daarom, gebaseer op die antwoorde op die twee vrae asook ander vrae in die peiling, is ʼn algoritme ontwikkel om lae, medium en hoë stempersentasies te bepaal,” het Ipsos verduidelik.

Volgens Ipsos sal ʼn lae stempersentasie waarskynlik neerkom op ʼn kiesersopkoms van ongeveer 60% van kiesers, ʼn medium scenario sal beteken dat tussen 71% en 75% van kiesers by die stembusse aanklop, terwyl ongeveer 80% van kiesers sal gaan stem in ʼn hoëstempersentasie-scenario.

“In die scenario vir lae kiesersopkoms, blyk dit dat ANC-ondersteuners meer toegewyd is om te stem en daarom verhoog die party se steun aansienlik. In die hoëkiesersopkoms-scenario slaag die ANC daarin om kiesers te oortuig wat andersins nie sou gaan stem het nie. Dus blyk dit dat die lae- én hoëstempersentasie-scenario tot voordeel van die ANC is. Die ander partye se steun is baie meer bestendig in al die verskillende scenario’s.”

Altesaam 26 736 805 kiesers is geregistreer om in vanjaar se nasionale verkiesing by 22 924 stemstasies landwyd te stem. Kiesstasies sal môre om 07:00 open en om 21:00 sluit. Mense wat teen 21:00 nog in die ry is, sal toegelaat word om te stem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

bella ·

From a resident
Just to let everybody know we went to cast our special votes today and by chance both my husband and myself noticed that the ballot papers weren’t stamped on the reverse side. We approached them and they then stamped them. Without the stamp they won’t count at all. So please be vigilant when you vote on Wednesday.

Foxi ·

Ons kry soveel waarskuwing boodskappe dat stembriewe nie voor of agter n stempel op het nie. Jy moet dan aandring dat hulle n stempel moet opsit. Jy moet ook nie n potloot aanvaar nie maar n swart pen. As dit nie n stempel op het nie, beteken dit dan niks. As jy jou kruisie trek met n potloot kan dit uitgevee word! Wel……as die bewerings waar is, hoeveel kiesers wil dan stem? Dan seëvier korrupsie mos nogsteeds…of hoe dan nou?

Nettie ·

Foxi, ek stem. Daarom gaan ek nie moeite doen om te stem môre nie, al is ek geregistreerd en weet ek vir wie ek sal stem.

Anoniem ·

Onthou om jou eie swart pen saam te vat – net vir ingeval.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.