Pelgrimsrus: ‘Dorp steeds veilig’

Pelgrimsrus (Foto: Maroela Media)

Inwoners van Pelgrimsrus in Mpumalanga hou vol dat dié toeristedorp veilig is ná ’n skietvoorval Sondagaand by ’n taverne buite die dorp.

Frieda Paton woon reeds 21 jaar in Pelgrimsrus en sê die gemeenskap is erg geskok nadat twee polisiebeamptes en vier lede van die publiek Sondagaand net buite die dorp geskiet is. Maroela Media het vroeër berig die polisiebeamptes het gereageer op ’n klagte van roof by die taverne, toe rowers op hulle losgebrand het. Een van die polisiebeamptes het in die voorval gesterf.

“Ons is verskriklik hartseer oor die voorval. Dit vang mens maar altyd as daar iets in jou omgewing gebeur. Dit is ook hartseer dat mense nie meer Pelgrimsrus toe kom wanneer sulke goed plaasvind nie.”

Ernstige misdade in die omgewing oor die afgelope twee dekades kan op die hand getel word, sê Paton.

“Die oomblik dat so iets gebeur, gaan almal op hol. Dit beïnvloed die dorp se toerisme waarop ons staatmaak. Ons werk ongelooflik hard om die land te laat verstaan dat dinge in Pelgrimsrus verbeter het.”

Pelgrimsrus (Foto: Maroela Media)

Volgens Paton het verskeie ondernemings die afgelope jaar weer hul deure oopgemaak, waaronder ’n vulstasie wat drie jaar gelede toegemaak het. Sakelui in die dorp doen ook moeite om die tuin voor hul onderskeie ondernemings mooi te maak.

“Ons het ’n baie hegte gemeenskap. Almal wat hier woon, is baie passievol oor die dorp. Pelgrimsrus is ’n erfenisterrein. Die museums word baie goed onderhou en die geskiedenis is nog al die tyd hier. Ek woon baie lekker hier.”

Brig. Vish Naidoo, woordvoerder van die polisie, het vanmiddag aan Maroela Media gesê niemand is nog in verband met die voorval by die taverne in hegtenis geneem nie.

Die tweede polisiebeampte wat in die voorval gewond is, sterk steeds in ’n hospitaal aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Snowball ·

‘n Hegte, passievolle en hardwerkende gemeenskap is helaas nie ‘n waarborg vir toeriste se veiligheid nie; nêrens in SA is mense se veiligheid gewaarborg nie – danksy ‘n falende polisiemag wat ons in ‘n misdaadhool laat verval. Pelgrimsrus is geen uitsondering nie, net nóg ‘n tragiese voorbeeld van SA se ondergang aan die hand van ‘n nuttelose regering wat niks voel vir wet en orde nie.

henndrik ·

Ek was altyd mal daaroor om Pelgrimsrus toe te gaan maar vandat die mislike paliteit hulle hande daarin het, het die hele dorp agteruit gegaan. Ek si jammer vir die mense wat daar bly en probeer maar ek vetrou eenvoudig nie die regering om dinge reg te laat verloop nie

Ronel ·

Ons was 3 jaar gelede daar en sal nie weer my voete daar sit nie. Dorp was vuil, met lang gras en die “Stalletjies” maak die dorp onooglik. Ek was vreeslik opgewonde om my kinders die dorp te wys aangesien dit een van die mooiste dorpies was wat ek as kind onthou het, maar was rerig teleurgstel. My kinders was net so teleurgestel, want ek het hulle vertel van die oulike dorpie met sy oulike winkels en museums. AAKLIG

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.