Pendelaars gewaarsku oor busstaking

Argieffoto: http://upload.wikimedia.org/

Die Kaapstad-metro het pendelaars Dinsdag daarop gewys dat My CiTi-busdienste vanaf 18 April (Woensdag) in dié stad opgeskort word weens ʼn nasionale staking.

Brett Herron, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir vervoer en stedelike ontwikkeling, sê dié diens sal reeds om middernag vanaand opgeskort word. Dit is nog onduidelik wanneer dit weer hervat sal word.

Volgens Herron beïnvloed die nasionale staking busdienste landwyd, en nié net dié in Kaapstad nie. Dié staking word gehou weens loononderhandelinge wat nog nie ten einde geloop het nie.

Talle vakbonde het die regering vroeër daarvan beskuldig dat hy loononderhandelinge onnodig vertraag, maar Ayanda Dlodlo, minister van staatsdiens en administrasie, het dié beskuldigings as onwaar bestempel en gesê die regering is daartoe verbind om die onderhandelinge af te handel wanneer “ʼn bes moontlike uitkoms tussen die onderhandelende partye gevind is”.

Herron sê die opskorting van My CiTi-busdienste is in die veiligheid van sy werknemers én van Kaapstadse pendelaars. “Ons vra om verskoning vir die onvermydelike ongerief en die ekstra druk wat dit nou op pendelaars plaas om alternatiewe vervoerplanne te maak,” lui die verklaring. “Die staking gaan nadelig uitkring op alle openbare vervoerdienste aangesien meer as 72 000 mense op enige gegewe dag van My CiTi-dienste gebruik maak,” sê hy.

Die Stad Kaapstad voorspel dat verkeer op die paaie in en om die stad aansienlik gaan toeneem aangesien 72 000 pendelaars daagliks alternatiewe vervoer na hul onderskeie bestemmings sal moet kry. Pendelaars sal waarskynlik van hul eie vervoer of van minibustaxi’s gebruik maak.

“Dit sal waarskynlik verligting bring as privaat ondernemings hul werknemers toelaat om van satellietkantore af te werk vir ʼn paar dae of selfs enkele ure, óf hul personeel toelaat om vroeër of later kantoor toe en dan ook vroeër of later huis toe te gaan, óf werknemers toelaat om van hul huise af te werk in spitstye en dan eers ná spitstye na hul kantore te gaan.”

Herron sê pendelaars moet die volgende paar dae ook van saamrygeleenthede gebruik maak om sodoende nie in erge verkeer in die stad vasgevang te word nie.

“Dit bly onduidelik hoe lank die staking sal voortduur,” sê Herron. “Die Stad sal die situasie noukeurig dophou en pendelaars op die hoogte hou van nuwe verwikkelinge.”

Kaapstadse pendelaars word versoek om My CiTi-busdiens op Twitter te volg om op die hoogte te bly van die jongste inligting. Pendelaars kan ook die amptelike webwerf besoek of die inbelsentrum direk by 0800 656 463 nader.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

CAROL ·

Hier praat hul net van Kaapstad maar dis n nationwide strike.???

CAROL ·

Hier praat hul van Kaapstad maar elders praat hul van “nationwide”???

JANEE ·

Alle busdienste word geraak..ook privaat busdienste ..Greyhound ,munisipale busse , Gautreinbusdiens ens…en natuurlik PUTCO .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.