Pendorings fokus vanjaar net op Afrikaans

Die finaliste vir die 2014 Pendoring-reklametoekennings is bekend gemaak. Foto: Pendoring Facebook-blad

Die finaliste vir die 2014 Pendoring-reklametoekennings is bekend gemaak. Foto: Pendoring Facebook-blad

Die gesogte Pendoring-toekennings het vanjaar besluit om weg te doen met die eg Suid-Afrikaanse afdeling en sodoende die fokus weer uitsluitlik op Afrikaanse reklame te plaas.

Dit is vanjaar boonop dié toekennings se 20ste bestaansjaar en om dit te vier, word daar ʼn oorsese studiereis ter waarde van R100 000 by die geleentheid aan die wenner van die Prestige-toekenning oorhandig wat die wenner in staat sal stel om by die skerpste reklameskeppers oorsee te gaan leer. Dit is die grootste prys óóit vir skeppende werk in die plaaslike reklamebedryf.

Die Pendorings wat jaarliks die beste in die Afrikaanse en eg Suid-Afrikaanse reklamebedryf vier, gee reklame vanjaar die geleentheid om opnuut die oorspronklikheid, kreatiwiteit, humor en trefkrag van die Afrikaanse taal te toon te stel en te vier.

“Pendoring is nie oorspronklik in die lewe geroep om reklame as sodanig te bevorder nie, maar spesifiek om kreatiewe, oorspronklike en uitmuntende Afrikáánse reklame te bekroon,” sê Japie Gouws, voorsitter van die Pendoring-direkse en besturende direkteur van die ATKV-groep.

Volgens hom het die eg Suid-Afrikaanse kategorie mettertyd die fokus weg van Afrikaans geskuif. “Dít het nie advertensie-agentskappe en bemarkers aangemoedig om werklik treffende Afrikaanse advertensies te skep nie. Inteendeel, die meeste inskrywings in dié kategorieë was in Engels.”

Afrikaans is ook vanjaar 90 jaar oud en volgens Gouws wil hulle die lewenskrag van dié dinamiese jong taal vier met advertensies wat alle Suid-Afrikaner sal geniet, ongeag hul kultuur en taal. “Afrikaans is ʼn ryk bron waaruit ons kan put wanneer dit kom by die skep van advertensies met impak. Dit moet aangemoedig word. Ons land sal soveel armer wees sonder Afrikaans,” het Gouws gesê.

“Behalwe dat Afrikaanse advertensies met die Afrikaanse verbruiker in sy eie taal praat, dra dit by tot die kleurrykheid van ons land. Dink maar aan die destydse Cremora ‘koffiekapitaal’-advertensie met Jan Spies wat vertel dat Cremora ‘pure plaas’ proe.”

Volgens Gouws hoef Afrikaans nie afgeskeep of geïgnoreer te word as ʼn minderheidstaal nie en bemarkers moet bewus wees daarvan. Hy het ook bygevoeg dat dit eintlik baie goed gaan met Afrikaans.

“Volgens die 2011-sensus is Afrikaans die huistaal van sewe miljoen Suid-Afrikaners. En anders as wat baie mense dink, is Afrikaans nie ‘wit’ nie. Net 40% van alle Afrikaanssprekendes is wit, 50% van alle Afrikaanssprekendes is bruin, 9% swart en 1% is Indiër,” het Gouws gesê.”

“Buitendien is meer as 13 miljoen Suid-Afrikaners se eerste addisionele taal Afrikaans. Daar is dus nie minder nie as 20 miljoen mense in Suid-Afrika wat Afrikaans magtig is. Dís mos nie ʼn minderheidstaal nie!”

Benewens die oorsese studiereis ter waarde van R100 000 vir die Prestige-wenner, ontvang elke kategoriewenner ’n goue Pendoring-trofee en R6 000, naaswenners kry ’n silwer Pendoring en R2 500 en die algehele studentewenner R10 000.

Vir meer inligting oor die toekennings besoek www.pendoring.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JoeV ·

Raak nogal dik vir die Afrikaanse advertensies met die “motto” in Engels aan die einde. “shift expectations” is een Afrikaanse advertensie se Motto, en daar is ander voorbeelde. Het dáái kar verkoop oor die verleentheid!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.