Die keur van die Suid-Afrikaanse reklamebedryf is Vrydagaand tydens die jaarlikse Pendoring-prysaand by Vodacom World in Midrand vereer. Vanjaar se prestige aand het ʼn splinternuwe baadjie aangetrek nadat dié liggaam vanjaar sy deure vir talle inheemse Afrika-tale oopgegooi het om die skepping en bekroning van reklame in dié tale aan te moedig.
Dié prestige-aand was ook ʼn gulde geleentheid om die Pendorings se 21-jarige bestaan met swier te vier, en geen moeite om ʼn heuglike bekroningsaand te vier, is ontsien nie.
ʼn Stampvol saal is vermaak deur die seremoniemeesters Schalk Bezuidenhout en Rozanne McKenzie en die sangers Elvis Blue en Code Red Drum Corps.
Vanjaar se Pendoring-beoordelingspaneel moes drie dae lank spook om 108 finaliste, die grootste groep nóg, aan te wys wat om dié gesogte trofee meeding.
Dit is vanjaar ook maar die derde keer in Pendoring se 21-jarige bestaan dat meer as 400 reklameskeppers hul advertensies vir die gesogte beeldjie ingeskryf het.
In die inheemse Afrika-tale-kategorie was Zoeloe-inskrywings vanjaar die voorloper, gevolg deur Xhosa- en Sotho-inskrywings – voorheen as grensverskuiwend deur die Pendorings bestempel.
Altesaam nege goue en 37 silwer Pendoring-trofeë is toegeken. Agt van dié goue toekennings is aan professionele agentskappe en een aan ʼn student toegeken. Altesaam 29 silwer toekennings is verder aan professionele agentskappe en agt silwer toekennings is aan studente toegeken.
Volgens die beoordelaars het die inheemse tale in die algemeen vanjaar “hul spiere gebult met ’n oorspronklike aanslag en ’n groot begrip van die Suid-Afrikaanse gees in die advertensiewese”.
Dit was egter vinnig duidelik: Die reklame-agentskap King James kraai vanjaar wéér koning nadat dié agentskap vir die tweede agtereenvolgende jaar met die gesogte Prestige-toekenning vereer word vir sy veldtog vir die Sanlam Musiekfees.
Die Umpetha-toekenning vir die beste advertensie in ʼn inheemse taal, met die uitsluiting van Afrikaans, word vanjaar gedeel deur Ogilvy & Mather vir sy radio-advertensie vir KFC, Slyza Tsotsi 3, en The Odd Number vir die radio-advertensie Umsebenzi vir BBC Brit. Albei dié advertensies is in Zoeloe.
Beide die Prestige-toekenning en die Umpetha-toekenning bied elk ʼn oorsese studiereis ter waarde van R100 000.
Carina Bonse en Gabi van Niekerk van Red & Yellow School of Logic and Magic in Kaapstad het ook met die enigste goue Pendoring in die studente-kategorie weggestap vir hulle advertensie Die water is perfek! in die kategorie geïntegreerde veldtog. Hulle is ook as die algehele wenners in die studentekategorie bekroon.
“Hierdie man bou ’n ruimtetuig”, deur Mullen Lowe vir GWK, was ʼn silwer wenner in die kategorie televisie en rolprentteaterreklame:
Nóg ’n Afrikaanse projek wat polities korrek geword het deur allerhande ander tale toe te laat. Help hulle eerder om hul eie goed uit te bou eerder as om ons eie te laat kaap.
Ons stem saam met jou Gwen – die volgende jaar se pendoring toekenings met ‘n nuwe moeilike naamsverandering.
Hoe meer Afrikaners ‘n geleentheid skep vir ander Suid-Afrikaanse rasse om die Afrikaner werklik te leer ken (en wedersyds), sal ons plek in hierdie besondere land verstewig word. Om die land te deel beteken nie om boedel oor te gee nie.
Afrikaners sal nooit genoeg kan doen om toenadering tot ander rasse te soek nie en sal nooit in hierdie besonder land verstewig word nie. In teendeel, sedert die droom van die perfekte reenboog nasie sedert 1994 soos mis voor die son verdwyn het, raak Afrikaners se posisie daagliks net meer riskant. Sodra ‘n nuwe kompromie aangegaan is, word dit eenvoudig met ‘n volgende vlaag eise vervang. Dit sal nooit stop nie.