Pensioen-klasaksie: Transnet se appèl geweier

Transnet-pensioenarisse het op 24 April 2014 na die Uniegebou in Pretoria opgeruk om 'n beswaarskrif te oorhandig. Foto: VF Plus

Transnet-pensioenarisse het op 24 April 2014 na die Uniegebou in Pretoria opgeruk om ‘n beswaarskrif te oorhandig. Foto: VF Plus

Transnet se aansoek om te appelleer teen ʼn beslissing waarvolgens ʼn R80 miljard-klasaksie teen die maatskappy en sy pensioenfondse ingestel mag word, is deur die appèlhof van die hand gewys.

“Die appèlhof het op 17 Desember die aansoek om verlof tot appèl van die hand gewys. Die rede hiervoor is omdat daar geen redelike vooruitsig is vir sukses nie,” het Wynanda Coetzee, ʼn regsverteenwoordiger wat namens die pensioenarisse optree, gesê.

“Die appèlaansoek is met koste van die hand gewys. Die pensioenarisse is baie dankbaar want dit beteken daar is hoop.” Volgens Coetzee sal hulle ʼn dagvaarding in die hooggeregshof in Pretoria uitreik sodra die howe weer in Januarie heropen.

Die hooggeregshof het op 3 Oktober Transnet se aansoek op te appelleer van die had gewys. Regter Ephraim Makgoba het in sy uitspraak gesê daar is geen gronde vir appèl nie.

Makgoba het in Julie vanjaar ʼn bevel uitgereik waarvolgens Johan Pretorius en Johan Kruger namens Transnet se 62 000 verarmde pensioentrekkers ʼn klasaksie kan instel, in ʼn poging om nagenoeg R80 miljard se bates en belange te verhaal.

Die pensioenarisse beskuldig Transnet daarvan dat hy die Tweede Transnet Vaste Voordeelfonds gestroop het en tot so mate wanbestuur het dat die fonds nie sy verpligtinge teenoor sy lede kan nakom nie.

Transnet is ook daarvan beskuldig dat hy probeer om die pensioenfonds te ontbind. Die verhoging wat die pensionestrekkers ontvang is die afgelope dekade tot 2% per jaar beperk

Die hof het tydens Pretorius en Kruger se aansoek gehoor dat talle pensioenarisse slegs sowat R1 per maand ontvang. Sowat 80% van die pensioenarisse ontvang minder as R4 000 per maand en 62% ontvang minder as R2 500 per maand.

Meeste van die pensioenarisse is tussen 70 en 90 jaar oud. Die oorgrote meerderheid van die pensioenarisse moet bedel om in hul basiese behoeftes te voorsien en talle het al selfmoord gepleeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jenny ·

Transnet, nog ‘n vrotkol in die land. Kry julle nie skaam nie?

Sarita Roodt ·

Transnet is een van die beste maatskappy om voor te werk. Die huidige werknemers het baie meer voordele as wat baie ander maatskappy bied. Moenie die nuwe en ou pensioen skema verwar nie. Die nuwe skema is baie goed. Dis egter jammer dat die ouer pensioenarisse moes ly onder veranderinge in die ekonomie en prysverhogings. Laat ons daar uit n les leer en voorsiening maak vir ons eie oudag. Neem n ekstra annuiteit uit om jou pensioen aan te vul. En ja die pensioen fonds moes die winste gedeel het met die pensioenarisse.

Eugene ·

Transnet, Eskom en die ander vertraagde SBM’s is bekend daarvoor dat hulle totaal buitensporige vergoeding aan hulle werknemers betaal – julle as ontvangers sal mos dus nie daaroor kla nie?! Dit wys my eintlik weereens daarop hoe kwaadwillig & mislik Transnet is teenoor sy eks-werknemers. Die ekonomie en prysverhogings is nie die oorsaak van die pensioenarisse se ellende nie – die hoofoorsaak is onverskillige ondeurdagtige optrede van die Transnet bestuur. Dit is egter ‘n puik idee wat jy voorstel vir huidige werknemers (by watter maatskappy ook al) om self ook voorsiening te maak vir aftrede deur middel van bv. aftree-annuiteite en diskresionêre beleggings.

Chris van Heerden ·

Jy sal vinnig kla as jou verhoging vir 20 jaar agermekaar net 2% is. Maak seker van jou feite voordat jy so brag oor n goeie maatskappy. Hulle besteel die oumense.

andré ·

Wat hartseer is Wat van die arme mense Wat agter bly na n pensonaris van transnet se man of vrou dood is. En nou meer kripieer gaan daai ouma of familie lid ooit iets uit die aksies kry

Joppie ·

Transnet het nie net die Pensioenfonds besteel nie, maar sonder skaamte gebruik hulle elke vertragingstegniek om die R80 biljoen betaling te vermy. Volgens ekonome sal die betaling die ondergang van Transnet beteken aangesien hulle nie naastenby oor die fondse beskik nie, en nooit van so ‘n terugslag sal kan herstel nie.

Werner Laufs ·

Saritha ek stem saam met jou dat bykomende voorsiening nodig is, maar onthou net een ding niemand van ons kan more se koerant vandag lees nie! Per slot van sake jy verwag mos nie dat die maatskappy vir wie jy jou beste jare gegee het net sommer jou geld gaan STEEL nie! Joppie dan moet hulle mar Transnet se bates verkoop en klaar kry !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.