Pensioenaris met das gewurg

Van die mense wat die egpaar ná die aanval bygestaan het. Foto: Heidelberg Medic Volunteers

Van die mense wat die egpaar ná die aanval bygestaan het. Foto: Heidelberg Medic Volunteers

ʼn 66-jarige man van Heidelberg, Gauteng is in ʼn ernstige toestand in ʼn hospitaal in Pretoria nadat hy Sondag in die vroeë oggendure tydens ʼn huisbraak aangerand en gewurg is.

Kapt. Thivhulawi Tshilate, polisiewoordvoerder van Heidelberg, het Dinsdag aan Maroela Media gesê twee verdagte mans het die man en sy vrou omstreeks 01:20 in hul huis in Heidelberg Kloof oorval.

“Die egpaar woon op ʼn landgoed langs ʼn reservaat,” het Tshilate gesê. “Die verdagtes het die elektriese heining geknip en só deur die reservaat toegang tot die landgoed bekom.” Hulle het daarna teen ʼn boom, wat lang die huis groei, opgeklouter tot by ʼn balkon op die eerste verdieping.

“Die mans het die egpaar in hul slaapkamer oorval. Die man is vasgebind, erg aangerand en met sy das gewurg, waarna hulle die huis geplunder het.” Hulle het met geld, juwele en elektriese toestelle gevlug.

Volgens paramedici het ʼn afgetrede dokter ná die aanval die slagoffer se lewe gered deur hom by te bring en sy lugweg oop te hou.

Die man, en sy vrou wat erg getraumatiseer was, is na die Suikerbosrand-kliniek geneem vir verdere behandeling. Die man is later in ʼn ernstige toestand na ʼn hospitaal in Pretoria oorgeplaas.

Die polisie ondersoek die voorval. Niemand is nog in verband met die aanval in hegtenis geneem nie.

Tshilate het enigiemand met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan, versoek om die polisie by 0800 10111 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Anoniem ·

Gaan daar ‘n beloning uitgeloof word indien geen leidrade gevind word?
Ek wonder maar net en is seker daar gaan niks van kom. Moedeloos dat vir sekere mense word
belonings uitgeloof en ander nie.

anet ·

Dit maak my woedend!!!! Hoekom word weerlose seniors aangeval ?? Die aanvallers is te papbroekig om een een te kom, want hulle weet hulle staan nie ‘n kans nie. Leegleers,Aliens wat soveel gasvryheid geniet in Suid-Afrika.

Nee manne van Suid-Afrika dit is tyd dat julle saamstaan en hierdie moordenaars en plundenaars uitroei. Kyk na julle senior burgers, vrouens en kinders in julle omgewing. Stig meer blok en plaas reserviste asseblief. Die geweld is buite beheer. Die regerig wil niks doen om ons te beskerm nie. Daar word ook nie spesiale taakmagte beskikbaar gestel vir ons nie.

Delia ·

Jy’s 100% reg…..het gedink die man is dood….gewurg is korrek.

Sune van Heerden ·

Dagsê Petrus, Delia en Willie

Baie dankie vir die kommentaar. Julle is inderdaad korrek, dit is ‘n fout wat deurgeglip het. Dankie, ons het die wysiging aangebring.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

marietjie ·

en dit stop net nie. nee niks gaan gebeur nie, maar net nog n geval. mens moet maar net bid dat die man sal oorleef

Willie ·

Ook dadelik gedink die persoon is oorlede omdat hy verwurg is. Gewurg, of jy wurg my?? Is dit nie?

Mishka ·

Genade mense, wat maak dit saak GEwurg, VERwurg, wurg? Die prinsiep van die saak is, NÓG nskuldige mense is aangeval op ‘n plaas. Wanneer gaan die regering eendag besef dat misdaad in ons land is besig om hand uit te ruk. Mense kerm en kla oor Steve Hofmeyr en sy rebelsheid, kerm en kla oor onbenullighede, in plaas dat die regering in die bek geruk word en die doodstraf teruggebring word [vir wat dit werd gaan wees in elk geval!] Ons lewe in tronke met deure en vensters toe al teen 17:00. Ons kan nie meer die sterrehemel geniet saans om ‘n braaivleisvuurtjie nie. Ons sit vasgevang agter tralies terwyl die vuilgoedse barbare buite rondsluip en ons aanval en vermoor. Mens voel so ‘n magtelose woede teenoor ons regering wat net mooi niks doen om dit te laat end kry nie. Maar kom stemdag, vir wie stem die volk???

Patat ·

Ai Mishka, dit maak nou mos nie saak as ‘n fout onder die aandag van die verslaggewers gebring word nie? Ek weet eerlik nie hoekom baie mense so liggeraak is as hulle op spel- en taalfoute reggehelp word nie. En ek kan ook nie sien dat dit op ‘n lelike manier gedoen was nie.

Gewurg, en verwug het twee verskillende betekenisse.

Michele Coetzee ·

so – help my gou – as jy steel want jy is honger hoekom gaan jy direk na die kamer waar die mense van die huis slaap ? jammer hierdie mense is net daar vir een ding en dis om te moor dan weer vat net ‘n selfoon dan word dit as huisroof aangeteken !!

mishka ·

Hi Patat, ek hoor wat jy sê. Ek het nie pyne met die reghelp nie. My pyn is met die plaasaanvalle wat net meer en meer word en net meer en meer mense betaal met hul lewens op plase en dit soms, ja vir ‘n selfoon!

Gerhard Bezuidenhout ·

Die nagroofdiere slaan op sagte teikens toe . Die polisie sal weereens soek om nie te kry nie.Ons land is in n gemors en die regering is nikswerd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.