Pensioenaris oornag R56 miljoen ryker

Argieffoto

’n 63-jarige pensioenaris van Limpopo het oornag ’n multi-miljoenêr geword nadat sy ʼn raps meer as R56 miljoen in die Lotto losgeslaan het.

Die gelukkige wenner van dié stewige boerpot beskou dit as ‘n “seëning van Bo” aangesien sy die afgelope ses jaar lank al Lotto speel. Die meeste wat sy nog in die Lotto gewen het, was ’n skamele R50.

Die boerpotwenner se oudste dogter sê sy was oorstelp van vreugde toe sy hoor haar ma het gewen. Die dogter vertel dat sy haar ma weekliks moet help speel – Lotto op Woensdae en Saterdae en Powerball op Dinsdae en Vrydae.

“Sodra my ma haar nommers kies, moet ek winkel toe gaan en namens haar gaan speel. In die aande bly ek saam met haar wakker om na die trekking te kyk en die nommers vir haar te lees aangesien sy nie meer goed kan sien nie. Ek was Woensdagaand te opgewonde om te slaap toe ek besef al my ma se nommers is getrek. Ons het wakker gebly en die hele aand gesing en gedans,” vertel sy.

Die pensioenaris is deur haar man, kinders en kleinkind na die Ithuba-kantoor vergesel om haar prysgeld te ontvang.

“Ek het nog altyd daarvan gedroom om op ʼn vliegtuig te klim en Kaapstad toe te vlieg. Ek het altyd met my kinders gespot dat indien ek eendag die Lotto wen, ek met ’n vliegtuig sal vlieg sodat ek kan weet hoe dit voel.”

As ʼn diabeet sal sy ook nou toegang hê tot die beste gesondheidsorg. Sy beplan ook om ʼn  gesinsmotor te koop sodat sy haar nie meer hoef te bekommer oor hoe sy by die dokter moet kom nie, vertel sy.

Dié nuwe multi-miljoenêr sê dat sy van haar geld sal gebruik om haar huis op te knap aangesien haar dak besig is om in te val. Sy beplan ook om vir elkeen van haar kinders ʼn huis te bou.

Sy wil egter nie net in haar eie behoeftes voorsien nie, maar ook ander met haar wengeld help. “Ek kom uit ʼn bergagtige dorpie in Limpopo en die paaie is sleg. Ek sal ook van die geld gebruik om ʼn pad in dié gemeenskap te bou,” het sy gesê.

Sy sê dat sy geen spesifieke strategie gevolg het om dié fortuin los te slaan nie en het bloot haar wennommers lukraak gekies, soos sy maar gewoonlik doen.

Sy sal voortaan elke week steeds getrou haar Lotto-kaartjie koop. “Dit sal te vreemd wees om nie meer te speel nie,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Realis ·

Kyk hoe baie vriende en vervreemde familie gaan nou hulle opwagting maak…

Wegsit ·

Wonder waarom al haar kinders en haar kleinkinders ook na die Ithuba-kantoor moes gaan (natuurlik om hul deel op te eis). R56 miljoen is baie, maar as ek so luister na wat sy alles daarmee wil doen, gaan dit nie lank hou nie. Pleks sy sit bietjie weg ook.

Hasie ·

Wat van die VBS bank? Moet net nie dat die anc en die eff daarvan hoor nie.

VanAfrika ·

Tannie bêre jou geld, jy kan nie die wêreld versit nie, niemand gaan jou help as jy ernstig siek word nie, dis jou nes eiertjie vir die onbeplande of die onverwagse. Die munisipaliteite moet sien dat die strate reg gemaak word, dis nie jou werk nie. En leer ook vinnig om niemand toegang tot jou geld te laat hê nie

Aag asb ·

Aag asb! Waarom wegbere? Junne tog! Leef en laat leef. Moenie ophou om goed te doen. Syt n goeie hart deur daai pad te wil bou. Om n huis vir elk van haar kinders te bou,is n goeie gebaar en verseker n beter lewe. Sy sal haar karrejie geniet met beter mediese sorg,ens. Wegbere,sal nie haarself en haar kinders n beter toekoms gee. As ek haar so luister,sal sy dit oordeelkundig reg gebruik

Alida ·

Baie geluk tannie. Dis jou geld en jy kan daarmee doen net wat jy wil. Moet jou nie steur aan mense met suur druiwe nie.

Petro ·

Kom nie van “Bo” nie.. Maar geniet jou geld hoor en doen iets awesome vir liefdadigheid asb. Groot nood daar buite…

Sê maar net. ·

Stem saam. Jammer, maar Lotto is dobbel. Dit kan nie van ‘Bo’ kom nie.

Antionette ·

Baie geluk tannie. Gebruik dit nes jy goeddink. N nes eier baie goed maar waar in Suid Afrika kan jy dit doen vandag. My ouers het dit probeer, en nou het SARS daai geld gevries ons sukkel al meer as n jaar om daai geld trug te kry. En let wel alle belasting is betaal die dag toe hul geld uitbetaal het. Als hopeloos korrup in SA. Gebruik en geniet elke sent tannie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.