Pensioenaris-puntsman deur swerm bye aangeval

Swerm bye Foto: Peter Essick, National Geographic

Swerm bye Foto: Peter Essick, National Geographic

ʼn Pensioenaris van Centurion wat vir Outsurance as ʼn puntsman werk, is Dinsdagmiddag omstreeks 17:30 deur ʼn swerm bye aangeval.

Die voorval het op die hoek van Piet Hugo- en Ruimteweg in Centurion plaasgevind.

“Ek het aanvanklik gedink daar was ʼn ongeluk,” het Vena Strauss, een van Maroela Media se lesers, gesê. “Ek het die ou oom op die sypaadjie sien sit en kon nie verstaan hoekom niemand hom help nie.” Dit is tóé dat sy die swerm bye opgemerk het. “Daar was soveel bye dat niemand uit hul motors kon klim nie. Daar was seker ʼn duisend bye rondom hom.”

Bertus Myburgh, woordvoerder van Copwatch, het aan Maroela Media gesê paramedici kon nie by die man uitkom om hom te help nie. “Ek het naby aan hom parkeer en hy het agterop my bakkie geklim,” het Myburgh gesê. “Ek het so 2 km ver met hom van die toneel af weggery en paramedici kon hom daar behandel.”

Die man is in ʼn stabiele toestand na 1 Militêre Hospitaal geneem. Maroela wag nog vir terugvoer van Emer-G-Med.

Outsurance het die voorval bevestig en gesê een van sy bestuurders is op pad na die hospitaal om die man te gaan besoek. “Ons kan ongelukkig in hierdie stadium nog nie enige verdere besonderhede verskaf nie,” het ʼn woordvoerder van die maatskappy aan Maroela gesê.

Strauss het gesê toe sy by haar huis aankom, was daar nog steeds ʼn paar bye in haar motor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gerhard ·

Wow die Oomie is al jare op sy pos elke dag. Hy het altyd hoek van Wierda en Saxby gewerk voor die verkeerslig daar ingesit is. Maroela hou ons op hoogte asb.

Catherine ·

Sterkte vir die oom. Ek het vanoggend n trekker wat grassny op die sypaadjie sien afry. Dalk het hy die by nes versteur.

Marlene Monte ·

Shame! Die Oom was altyd by die 4-rigting stop in Reddersburg St. Altyd pligsgetrou op sy pos, altyd vriendelik gegroet en gewaai. Ek mis hom hier. Word gou beter Oom!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.