Pensioengeld om staat te help? Aikôna!

(Argieffoto: Maroela Media)

Die vakbond Solidariteit sê hy is hewig gekant teen die “gryp van werkers se pensioenfondsgeld om sukkelende staatsinstellings kop bo water te laat hou”.

“Om pensioenfondse te dwing om in albatrosse soos Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens deur middel van voorgeskrewe bates te belê, sal die fondse en werkers se swaarverdiende spaargeld ʼn ernstige knou toedien,” sê Marius Croucamp, Solidariteit se adjunkhoofsekretaris vir strategie.

Die vakbond se kommer volg nadat die adjunkvoorsitter van die ANC se komitee oor ekonomiese transformasie, Zuko Godlimpi, vandeesweek laat blyk het dat die ANC van plan is om direk ná die verkiesing op voorgeskrewe bates en die transformasie van die finansiële sektor te fokus.

“Volgens die ANC se beleid moet pensioenfondse vir die ANC se model van nywerheidsontwikkeling  geoormerk word.

“Die ANC voer verder aan dat die land se aftreespaargeld oor meer bateklasse versprei moet word omdat dit té veel op die aandelebeurs gekonsentreer is. Die pensioenfondsbedryf het reeds kritiek gelewer op die ANC se beleidsuitlatings en het gewaarsku teen belegging in voorgeskrewe bates wat nie gaan presteer nie.”

Croucamp sê Solidariteit sal egter alles in die stryd werp om werkers se aftreefondse te beskerm teen die ANC se poging om dié fondse “te gryp”.

“Solidariteit se standpunt oor sogenaamde voorgeskrewe bates is dat daar eenvoudig nie toegelaat mag word dat die ANC enigsins aan werkers se aftreespaargeld raak nie.

“Staatsinstellings soos Eskom en Transnet word wanbestuur en geplunder, en dien as voertuie vir kaderontplooiing.

“Verder word kontrakte by staatsinstellings streng volgens swartbemagtigingsvoorskrifte toegeken wat ʼn eksklusiewe ANC-elite ten koste van gewone Suid-Afrikaners bevoordeel.”

Volgens Croucamp sal dit irrasioneel en onverskillig wees om aftreegeld in hierdie stadium in die sukkelende staatsinstellings te belê, veral omdat dit die waarde en groei van werkers se aftreefondse sal benadeel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Papsak ·

Nee dit werk nie so nie kyk net hoe oprate die ANC dit is nie daai mense skuld laat ESKOM EN TRANS NET so lyk nie maar nou wil hulle sommer die mense se pensioengelde vat wat hulle hard voor gewerk het nee groot nee dit werk nie so nie hulle kry almal vet pay laat hulle van hulle gelde vat en daai plekke reg ruk bly klomp skelm die ANC !!!!!!?

Casper ·

Gaan dit die pensione van politici ook insluit of net die gewone werkersklas.Dit gaan veroorsaak dat mense gaan bedank en hulle geld by ander instansies gaan belê.Wat dan van die staat se voorneme om werknemers toegang tot ‘n deel van hulle pension te gee wat hulle kan onttrek.Gelukkig het ek al my geld uit GEPF onttrek toe ek afgetreë het en dit in ‘n annuteitsbelleggings fonds belê het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.