Pensioenplan vir Eskom ‘nie risikovry, maar enigste opsie’

(Argieffoto: pixabay)

Die vakverbond Cosatu sê die voorstel om staatsdienswerkers se pensioengeld te gebruik om Eskom se skuld te help delg is nie sonder risiko nie, maar dat die land nie meer enige ander opsies het om te verhoed dat die sukkelende kragvoorsiener die hele ekonomie in duie laat stort nie.

“Dit dreig nie net om die staat te laat tuimel nie, maar ook die ekonomie,” het Cosatu se parlementêre verteenwoordiger, Matthew Parks, Woensdag aan die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare ondernemings gesê.

Hy het gesê die versuim om ʼn geloofwaardige plan te aanvaar om Eskom uit sy verknorsing te red, wat vererger word deur opwekkingsprobleme en skuld van R454 miljard, gaan beteken dat kredietgraderingsagentskappe Suid-Afrika afgradeer – met ernstige gevolge vir alle Suid-Afrikaners.

Parks het ʼn meer ideologiese argument voorgehou om Cosatu se plan te laat aanvaar om op ʼn staatsbeheerde manier – deur die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) – nagenoeg R254 miljard van die staatsdienspensioenfonds te gebruik om Eskom se skuld bykans te halveer.

Volgens hom gaan dié stap werksgeleenthede by die kragvoorsiener beveilig en die staat se voortgesette rol in die elektrisiteitsbedryf en die breër ekonomie waarborg.

“ʼn Versuim om Cosatu se sleuteleise vir ʼn omkeerplan by Eskom in werking te stel, lei tot die gevaar dat Eskom werkers sal moet aflê, asook Eskom se moontlike ten gunste van die private sektor.”

Parks het gesê emosies moenie sleutelfeite in die debat oor die wysheid van die gebruik van ʼn pensioenfonds om Eskom te red, oorskadu nie. Hy voer ook aan pensioenuitbetalings gaan nie weens die gebruik van die geld verminder nie.

“Baie mense, selfs die agbare lede [van die parlement] verstaan in die hitte van die oomblik nie altyd dat die staatsdienspensioenfonds ʼn gedefinieerde bate is nie. Wat jy ontvang is gegrond op jou jare diens en die bedrag wat jy bygedra het,” het hy aan LP’s gesê.

Hy sê die OBK wys deurlopend beduidende wins en ʼn verdere belegging in Eskom gaan sowat 4% van sy totale blootstelling behels.

“Ek het nog nooit gehoor dat 4% die ander 96% bedreig nie. Dit is volhoubaar.”

Parks sê as Eskom nie gered word nie, word bykans alle OBK-beleggings, ook die staatsdienspensioenfonds, aan groot risiko’s blootgestel.

“As Eskom in duie stort, gaan daar geen aandelemark wees nie. Dit is belangrik om te onthou dat die OBK in 1 200 maatskappye belê. 90% van die OBK se beleggings is op die aandelebeurs. As Eskom dus vou, gaan dié aandele nutteloos wees.

“Daar is ʼn risiko, maar as jy nie ingryp nie, is dit nie ʼn risiko wat jou in die gesig staar nie, dit is ʼn waarborg dat pensioenbeleggings of werksgeleenthede verlore sal gaan.”

Die akademikus en infrastruktuurkenner Anton Eberhard, verbonde aan die Universiteit van Kaapstad se sakeskool, het saam met Cosatu gestem dat Eskom se skuld gepak moet word. Hy waarsku dat selfs al ruim Eskom al sy ander probleme uit die weg, die las van sy skuld hom steeds gaan lamlê.

Hy het gesê Eskom is vasgevang in ʼn doodspiraal waar ʼn nypende tekort aan geld lei tot tariefverhogings wat weer verbruik kelder.

Volgens hom sal dit “moreel gevaarlik” wees as die staat Eskom se skuld oorneem en dat Cosatu se voorstel ʼn veel beter plan is.

Die omstredenheid, volgens hom, handel grootliks oor hoe en waar die geld vandaan gaan kom.

Hy stel ook voor dat klimaatverwante finansiering saam met ontwikkelingsfinansiering gebruik word om die opwekkingskrisis om te keer. Dit sal beteken dat Suid-Afrika minder begin staatmaak op steenkool en meer op hernieubare energiebronne.

Parks sê hy stem saam met Eberhard se idee dat ʼn mengsel van finansiering gebruik word.

Pres. Cyril Ramaphosa het al sy steun vir Cosatu se voorstel gegee, mits private pensioengeld ook gebruik word.

Dié plan het reeds heftige teenkanting ontlok.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

39 Kommentare

jongste oudste gewildste
Grens

Hoop die werkers by daai pensioenfonds het ander voorsienning getref , hulle kan maar daai geldjies nou totsiens se.

Strandloper

Beter opsie…fire die lot!

Michael

Ek is bly my pensioen fonds word nie deur die anc beheer nie

Johan Venter

Ek het die hierdie kommentaar onderaan Flip Buys se artikel van gister geplaas: Die volgende behoort deur die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies as ‘n misdaad teen die mensdom geklassifiseer te word: Regerings wat deur die dryf na hul sosialistiese kommunistiese ideologie, of andersins, die bewoners van daardie land van enige van die volgende stroop/plunder: 1. Grond/Vaste eiendom 2. Pensioene 3. Private Gesondheidsorg 4. Geld, eiendom of enige verhandelbare dokumente in die bewaring of onder die beheer van ‘n Handelsbank, onder die beheer van Fondsbestuurders 5. Deur die Nasionalisering van die land se Reserwebank 6. Insgelyks behoort Breëbasis Swart/Wit… Lees meer »

Asgat

Ek bedank dan eerder en laat my pension uitbetaal. Geen verhogings by my werk is gegee nie weens die regering … my huur, kos,my elektrisiteit , water en alles gaan op. Nou wil hulle my pension waarvoor ek my lewe lank al werk ook gebruik. Ek wil nie eens meer opstaan en werk toe gaan nie, want wat werk ek voor? Om alles vir die onbevoegde regering en Eskom te gee.