Pensioentrekker doodgeskiet, vrou gewond in huisroof

Argieffoto: Verskaf

ʼn Man (61) is vroeg Dinsdagoggend doodgeskiet en sy 49-jarige vrou gewond nadat hulle en hul 16-jarige dogter wakker geword het tydens ʼn inbraak by hul huis op Odendaalsrus in die Noord-Vrystaat.

Kapt. Stephen Thakeng, woordvoerder van die polisie, sê drie indringers wat met ʼn vuurwapen en messe gewapen was, het in die vroeë oggendure toegang verkry tot Mokhethi Johannes Mohlakwana en sy vrou se huis. Mohlakwana het ondersoek ingestel na geluide wat hy in die huis gehoor het en drie mans met balaklawas aan binne-in hul woning gewaar.

Een van die inbrekers het ʼn vuurwapen by hom gehad. Hy en sy medepligtiges het kontant by die egpaar geëis en die huis deursoek. Volgens Thakeng het Mohlakwana se vrou die inbrekers met pepersproei probeer spuit, wat daartoe gelei het dat die man met die vuurwapen begin skiet het.

Hy het die oorledene in sy kuit geskiet en sy vrou twee keer in haar maag. Sy is na ʼn plaaslike hospitaal vir behandeling gebring, maar haar man is op die toneel dood verklaar. Volgens die polisie is die mans se hoofslagaar getref.

Volgens Thakeng het die aanvallers weggekom met drie selfone.

Enigiemand met meer inligting kan kapt. Ansie Venter van Odendaalsrus se speurafdeling tydens kantoorure by 057 916 2400 of ná ure by 082 301 2797 bel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anoniem ·

Volgens die berig is die man wat in sy kuit geskiet is oorlede, maar die vrou wat 2 keer in die maag geskiet is in die hospitaal opgeneem vir behandeling. Kan dit reg wees?

t ·

As hy ‘n groot aar raakgeskiet het kan die man homself maklik doodbloei, veral as hy op hart disprins was.

Morné van Rooyen ·

Dagsê t, dankie vir jou kommentaar. Die polisie het aan Maroela Media bevestig dat die man se hoofslagaar getref is. Die berig is gewys om dit so aan te dui. Hoop dit klaar die verwarring op. Groetis, Morné, nms Maroela Media.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.