Pensionarisse moet opskud vir belastingkortings

geld 7

Argieffoto.

Pensionarisse in die Stad Kaapstad wat belastingkortings vir eiendomme van die stad ontvang, het slegs een week oor om aansoek te doen om in aanmerking te kom vir die bystand oor die volgende drie jaar.

Eiendomseienaars wat afhanklik is van pensioen of maatskaplike toelaes vir hul bestaan, insluitend diegene met spesiale behoeftes en wat ʼn huishoudelike inkomste tot en met R17 500 verdien, kwalifiseer vir dié belastingkortings. Die maandelikse huishoudelike inkomstedrempel vir belastinghulp is vanjaar met R2 500 verhoog.

Die korting vir alle inkomstegroepe tussen R4 500 en R17 500 per maand is ook opwaarts aangepas.

Daarbenewens word behoeftige eienaars van eiendom wat tot R6 000 per maand verdien, ongeag hul ouderdom, ook aangemoedig om aansoek te doen vir hulpbehoewende voordele wat kortings insluit.

Die verifiëringsproses vir die kortings vind elke drie jaar plaas om saam te val met die algemene waardasie van eiendomme in die stad.

Die nuwe algemene waardasie vir 2018 is op 1 Julie 2019 geïmplementeer nadat die vorige driejaarsiklus in Junie vanjaar geëindig het. “Nuwe aansoeke is ook welkom,” sê Ian Neilson, die Stad Kaapstad se adjunk-burgemeester.

“In hierdie moeilike ekonomiese tye kan finansiële verligting help om gesinne se begrotings te laat klop. Ons is hier om te help waar ons kan,” sê Neilson.

Foto: pixabay.com

Hy verduidelik dat kwalifiserende persone so gou moontlik moet aansoek doen om nie die bystand wat aangebied word, te verbeur nie. “Die stad se instapkantore word in November besiger. Amptenare sal aansoekers steeds sover moontlik bystand bied.”

Voorheen was dit ʼn vereiste dat die proses elke jaar deur pensionarisse aangepak moet word. “Om die las op pensioenarisse te verminder het ons daarin geslaag om die heraansoekproses te verander sodat aansoekers slegs elke drie jaar hul papierwerk moet indien. Ons probeer ons bes om die proses so moeiteloos moontlik te maak,” sê Neilson.

Kwalifiserende kliënte kan aansoek doen deur ʼn e-pos na [email protected] te stuur of by die naaste inloopsentrum aan te klop.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pieter ·

Sal niks vir hulle gee nie hulle mors net ons belasting geld dit is al des bonusse moet betaal word so dat die ANC mnre op vakansie kan gaan en ons moet by die huis bly

bekkig ·

Hoekom is dit net Kaapstad pensionarisse?
Daar is mos pensionarissa landwyd?

wilma ·

@bekkig – Sover my kennis strek, geld dit ook in Tshwane (Pretoria).

HC ·

Ons het al begin van Augustus 2019 gedoen maar dit is nogsteeds geen verskil en minder betaling nie…Lyk asof dit bly dieselfde en ons het September begin as Sundries R142 (voor BTW) betaal…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.