Peperduur brandstof gaan verbruikers looi

(Argieffoto: Maroela Media)

Die prys van brandstof in Suid-Afrika het weer ʼn rekordhoë vlak gehaal en van vandag (4 Augustus) gaan motoriste in Gauteng R18,03 en dié aan die kus R17,58 vir ʼn liter petrol moet opdok.

Die Automobiel-Assosiasie (AA) sê die laaste keer wat brandstof motoriste meer as R17 per liter gekos het, was in Oktober/November 2018 toe ʼn liter 95 oktaan-petrol in Gauteng R17,08 gekos het. Die prys van petrol aan die kus was in daardie tyd R16,49 – die hoogste wat dit ooit was.

Die AA sê 95 oktaan-petrol is nou 23,15% duurder as wat dit in Januarie in Gauteng was en 24,15% duurder aan die kus. Diesel is tussen 20,31% en 21,31% duurder in Gauteng én aan die kus wanneer die pryse met syfers in Januarie vergelyk word.

“Die grootste skok is die skerp styging in die prys van paraffien. ʼn Liter paraffien in Gauteng kos nou 30,31% meer as in Januarie en is 33,84% duurder aan die kus as aan die begin van die jaar,” sê die vereniging.

Die AA sê gegewe deurlopende veranderings aan twee sleutelfaktore wat die plaaslike brandstofprys beïnvloed – die wisselkoers en die internasionale pryse van petroleumprodukte – is dit haas onmoontlik om die koers van die brandstofprys in die komende maande te voorspel.

Een ding is seker: Verbruikers gaan les opsê.

Die vakbond Uasa het sy diepe kommer oor die prysstyging te kenne gegee.

Abigail Moyo, woordvoerder van Uasa, waarsku dat die prysstyging ʼn rimpeleffek op die prys van produkte en vervoer gaan hê. Sy sê die styging is ʼn prysskok wat veral diegene wat geraak is deur die onlangse geweld in KwaZulu-Natal en Gauteng, asook diegene wat hul inkomste weens die Covid-19-pandemie verloor het, kwalik kan bekostig.

“Ons doen ʼn beroep op die regering om die beloofde finansiële hulp vir sakeondernemings en individue as ʼn saak van dringendheid te hanteer,” sê Moyo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jasper

Die styging is agv van die die rand se verswaking teenoor die dollar en kan toegeskryf word aan die terrorisme wat plaas gevind het in kzn en Gauteng, dit gaan beteken dat kos pryse gaan styg want alles word met vragmotors vervoer.

andre

Ons doen ʼn beroep op die regering om die beloofde finansiële hulp vir sakeondernemings en individue as ʼn saak van dringendheid te hanteer,” sê Moyo. Wat n grap, hierdie regering help niemand behalwe hulleself nie.

Kokerboom

Ons betaal die prys vir ‘n uiters swak regering met GEEN visie, planne, vermoeë en wil!!! EN STEEDS stem die massas vir hulle!!!

Swerwer

Almal veg vir oorlewing want geen salaris verhoging vir die afgelope 2 jaar, agv die Regering se swak beslute en optredes en die mede landsburgers se vermoë om alles te vernietig. Te dankbaar dat daar nog werk is en kan nie die Privaatsektor kwalik neem dat daar nie salaris verhoging is nie, maar so kan dit ook nie voortgaan nie, alles raak duurder en daar is regtig nie meer geld beskikbaar om die broodnodige vir oorlewing te bekostig nie.

Saartjievandiebosveld

Hulle het geld nodig vir die beloofde R350….Wat is maklike om die brandstof prys te lig….